Die Paralimpiese atleet Oscar Pistorius het sy vonnis probeer beïnvloed  deur Reeva Steenkamp se ouers geld te gee, het die hooggeregshof in Pretoria Vrydag gehoor.

“Die aanbod is niks behalwe ’n poging om sy vonnis te beïnvloed nie,” het die aanklaer Gerrie Nel tydens sy slotbetoë in Oscar se vonnisverrigtinge gesê.

Hy het gesê hy was hartseer toe hy hoor van die betalings aan die Steenkamp-egpaar en het gevra hoekom daar tussen die beslissing en vonnisverrigtinge ’n aanbod gemaak is.

“As ek gehoor ná afloop van die saak gehoor het mnr. Pistorius het geld geskenk, sou dit anders wees. Maar dit was nie die geval nie.”

Toe Gerrie begin praat, het Oscar sy bril opgesit en sy kop laat sak.

Dit het vandeesweek in die hof bekend geword dat Oscar R375 000 aan June en Barry Steenkamp aangebied het en hulle tussen Maart verlede jaar en September vanjaar maandeliks R6 000 betaal het.

June het die enkelbedrag as “bloedgeld” afgemaak, het Gerrie gesê.

Die familie het gesê hulle sal die maandelikse betalings teruggee.

- Sapa