“Ek dink nie ons het ’n keuse nie. Die vraag is net wanneer dit gaan gebeur,” het Brian Webber, ’n lid van Oscar se regspan, aan joernaliste gesê nadat die hofsaak by die hooggeregshof in Pretoria tot Vrydag uitgestel is.

Die staat het Dinsdag hul saak in die Paralimpiese atleet se moordsaak gesluit. “Soos dit die hof behaag, U Edele, geleerde assessore, dit is die staat se saak,” het die aanklaer Gerrie Nel aan regt. Thokozile Masipa gesê.

Dit het gebeur kort nadat Oscar se prokureur, Barry Roux, kol. Johannes Vermeulen weer as getuie geroep het om hom weer te ondervra. Johannes het getuig oor die merke wat Oscar in die toiletdeur met sy krieketkolf gemaak het.

Hy het op 14 Februarie verlede jaar sy meisie, Reeva Steenkamp, deur ’n geslote deur in sy huis in Pretoria doodgeskiet, nadat hy glo gedink het sy was ’n inbreker. Hy het daarna ’n krieketkolf gebruik om die deur mee af te breek en Reeva uit te kry.

Nadat Gerrie gepraat het, het Barry gevra dat die saak tot Vrydag uitgestel word. “Ons vra u toegewing om die verklarings te bekyk van die getuies wat die staat nie geroep het nie en te sien wie beskikbaar sal wees en bereid sal wees om met ons te praat,” het hy aan die regter gesê.

Sy het die uitstel verleen. Oscar word aangekla van moord met voorbedagte rade en die oortreding van die vuurwapenwet.

– Sapa