“In die maand en ’n half, U Edelagbare... toe my ma dood is toe ek 15 was, het ek saam met ’n vriend dagga gerook,” het hy tydens sy getuienis in sy moordverhoor gesê.

“Sedertdien het ek geen dwelmmiddels gebruik nie.”

Hy het niks gebruik wat hom ’n voorsprong bo mededingers kon gee by die Paralimpiese of Olimpiese byeenkomste waaraan hy deelgeneem het nie.

Hy het drank gedrink, maar nie in die voorseisoen van November tot Kersfees nie.

Hy het gesê hy het Kersfees saam met familie en vriende weggegaan. Van begin Januarie tot September het hy nie gedrink nie.

Van September tot Oktober het hy borgskapverpligtinge nagekom, baie gereis en op die vliegtuig en saam met vriende gedrink.

Hy het gesê hy het voor ’n bootongeluk op die Vaalrivier ’n drankie gedrink, maar was nie besope nie.

Oscar word verhoor vir die moord op sy meisie, Reeva Steenkamp, wat op 14 Februarie verlede jaar deur ’n geslote toiletdeur in sy huis in Pretoria doodgeskiet is.

Hy sê hy het haar vir ’n inbreker aangesien. Hy pleit onskuldig en ontken in sy pleitverklaring dat hy kort voor die skietvoorval met haar gestry het.

Hy staan ook tereg op twee aanklagte van oortredings van die Wet op Vuurwapenbeheer, waarop hy skuld ontken.

Reeva se ma, June Steenkamp, was in die hof saam met ander familielede en vriende.

- Sapa