Die atleet Oscar Pistorius, wat teregstaan op ’n aanklag van moord, het buite die hof geskik met ’n vrou wat hom van aanranding beskuldig het, het sy prokureur, Brian Webber, Woensdag gesê.

“Die saak is verlede jaar tussen die partye uitgeklaar,” het Brian gesê. Hy wou nie besonderhede oor die skikking gee nie.

Eye Witness News het berig dat Cassidy Taylor-Memmory in Desember op ’n skikking saam met Oscar se prokureurs besluit het. Die saak hou verband met ’n voorval in 2009 tydens ’n partytjie by Oscar se huis. Sy het beweer dat die atleet ’n deur toegemaak het en in die proses haar been beseer het. Hy is in hegtenis geneem en aangekla van aanranding.

Sy het aan Eye Witness News gesê sy het ingestem op die skikking omdat sy die voorval agter haar wou sit. “Ek het daartoe ingestem omdat ek so moeg was daarvoor dat dit soos ’n las op my skouers is,” het sy gesê.  Oscar het haar daarvan beskuldig dat sy dronk en aggressief tydens die voorval was, maar Cassidy het dit ontken.