“Die eenparige besluit van die hof is as volg... hy word aan strafbare manslag skuldig bevind,” het regt. Thokozile Masipa in die hooggeregshof in Pretoria gesê.

Die 27-jarige atleet het ’n donker pak en wit hemp aangehad en reguit voor hom uit gestaar met sy hande voor hom gevou terwyl regt. Masipa haar uitspraak voorgelees het.

Oscar se pa, Henke Pistorius, het gehuil en vriende van oorlede Reeva Steenkamp het in trane uitgebars.

Die bewyse voor die hof toon hy was nalatig toe hy na die toiletdeur geskiet het met die wete dat daar iemand agter die deur was, het regt. Masipa gesê.

“Daar kan nie gesê word die beskuldigde het nie werklik geglo daar is ’n inbreker in die toilet wat vir hom ‘n bedreiging inhou nie .  . .

“Daar kan nie gesê word hy het voorsien dat die oorledene of enigiemand eweneens kon sterf toe hy die skote op die deur skiet nie.”

Regt. Masipa het Oscar onskuldig bevind aan moord.

Na afloop van die uitspraak is Oscar se borgtog verleng ten spyte daarvan dat die staat dit teengestaan het.

Hy sal na verwagting op 13 Oktober weer in die hof verskyn.

Regt. Masipa het die hof kortliks verdaag nadat sy haar uitspraak gelewer het.

Tydens die onderbreking het dit gelyk of Oscar se familie bid.

Oscar, wat Donderdag in die hof geruk en gehuil het, is daarvan beskuldig dat hy sy meisie, Reeva, op Valentynsdag verlede jaar in sy huis in Pretoria vermoor het. Hy het haar deur die geslote deur van sy toilet geskiet omdat hy blykbaar gedink hy sy is ’n inbreker wat op die punt is om hom te kom aanval. Sy is in die heup, arm en kop getref.

[caption id="attachment_83530" align="alignnone" width="620"]June Steenkamp, Reeva se ma, troos ’n familielid, Kim Martin. (Foto: Alon Skuy/Times Media Group/Sapa) June Steenkamp, Reeva se ma, troos ’n familielid, Kim Martin. (Foto: Alon Skuy/Times Media Group/Sapa)[/caption]

Reeva se vriende was nie Vrydag so kalm soos Oscar nadat regt. Masipa haar uitspraak gelewer het nie. Hulle het begin huil.

Maar haar ouers, June en Barry Steenkamp, was uitdrukkingloos.

Barry het vooroor geleun en sy vingers op die rand van die openbare galery ineengestrengel. Haar ma, June, het geen emosie getoon nie.

Reeva Steenkamp se oom, Michael Steenkamp, het emosioneel geword.

Haar niggie, Kim Martins, is deur haar pa vertroos terwyl sy gesit en afkyk het. Reeva se vriendin Gina Myers het begin huil en is deur haar ma, Desi, en suster, Kim, vertroos. Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het gesê hulle is teleurgesteld oor die uitspraak.

'In hierdie stadium is die saak nie afgehandel nie.'

“In hierdie stadium is die saak nie afgehandel nie. Ons wag nog vir die vonnis. Dit is eers ná die vonnis dat die NVG hul opsies kan opweeg en kyk of hulle die saak kan verder voer,” het Nathi Mncube, ’n woordvoerder van die NVG, buite die hof aan verslaggewers gesê.

“Ons voel in hierdie stadium moet ons die proses respekteer wat nog aan die gang is.”

Die Paralimpiese atleet het ook op drie oortredings van die Vuurwapenbeheerwet tereggestaan – een vir die onwettige besit van ammunisie en twee vir die afvuur van ’n vuurwapen op ’n openbare plek.

Hy is onskuldig bevind op die klag van die onwettige besit van ammunisie en een van die klagtes vir die onwettige afvuur van ’n vuurwapen op ’n openbare plek.

Maar hy is skuldig bevind aan die onwettige afvuur van ’n vuurwapen verlede Januarie in die restaurant Tasha’s in Melrose Arch.

Die getuie Darren Fresco het gehuil en met ’n pienk snesie sy trane afgevee nadat die regter haar uitspraak gelewer het.

Hy het teen Oscar getuig oor die klagtes wat met vuurwapens verband gehou het. Hy het vervolging op die klagtes vrygespring.

Mense het ná die uitspraak buite die hofgebou begin saamdrom.

Stilte het geheers onder diegene wat by die restaurant Dros buite die hof bymekaargekom het.

’n Werker het gevra waarom almal so stil is en of dit teleurstelling is. Niemand het geantwoord nie.

- Sapa