Die moordverdagte Paralimpiese atleet Oscar Pistorius het sy eerste oproep die  oggend dat hy sy meisie, Reeva Steenkamp, geskiet het skuins ná drieuur die oggend gemaak, het die hooggeregshof in Pretoria Dinsdag gehoor.

Oscar se eerste stemoproep in die vroeë oggendure van 14 Februarie 2013 was om 03:19 na ’n nommer wat met 2251 eindig en op Oscar se foon as “Johan Silver Woods” gebêre was, het die polisiekaptein Francois Moller tydens Oscar se moordverhoor gesê.

Johan Stander is die hoof van sekuriteit by die Silver Woods-landgoed waar Oscar Reeva deur die geslote deur van sy toilet doodgeskiet het omdat hy blykbaar gedink het sy is ’n inbreker.

Die aanklaer, Gerrie Nel, het Francois ondervra.

Om 03:20 is die foon gebruik om ’n internetverbinding te maak. Francois het vroeër vir die hof gesê dit kan die gebruik van sosiale netwerke soos Twitter, Facebook of WhatsApp insluit.

Om 03:20 het Oscar 082911, ’n nooddiensnommer, gebel. Die oproep het 66 sekondes geduur.

Dit is gevolg met nog ’n internetverbinding en toe ’n oproep om 03:21 na ’n nommer wat eindig met 6797 eindig – sekuriteit by die Silver Woods-landgoed.

Om 03:21 het Oscar 121, sy stemposnommer, gebel. ’n Minuut later het Silver Woods se sekuriteit Oscar teruggebel.

Nog internetverbindings het gevolg en toe, om 03:55, het Oscar sy vriend Justin Divaris gebel.

Om 04:01 het hy sy ouer broer, Carl, gebel.

Oscar staan tereg vir die voorafbeplande moord op Reeva en oortredings van die vuurwapenwet. Hy het na bewering in Januarie met ’n Glock-pistool ’n skoot onder ’n tafel in ’n restaurant in Johannesburg laat afgaan.

Op 30 September 2012 het hy na bewering ’n skoot met sy 9 mm-pistool deur die oop sondak van ’n motor afgevuur terwyl hy saam met vriende in Modderfontein gery het.