Die departement van korrektiewe dienste het Maandag gesê dat Oscar Pistorius vir vrylating op parool op 21 Augustus aanbeveel is, berig Netwerk24.

Volgens eNCA het Pistorius glo verlede week voor die paroolraad verskyn.

Dit is ingevolge sy vonnis die vroegste wat hy in aanmerking vir parool kan kom.

Hy is in Oktober verlede jaar tot vyf jaar tronkstraf gevonnis weens die skietdood van Reeva Steenkamp op Valentynsdag in 2013. Pistorius is verlede jaar deur regter Thokozile Masipa skuldig bevind op ’n klag van strafbare manslag.

Daar is ook vandag aangekondig dat die staat se aansoek om appèl teen Pistorius se vryspreking op ’n klag van moord in November aangehoor word.

Die presiese datum vir die appèlaansoek sal later vasgestel word. Vyf regters sal die staat se appèl aanhoor.

Bronne: Netwerk24, News24