Regt. Thokozile Masipa het haar uitspraak in die omstrede Oscar Pistorius-saak in die hooggeregshof in Pretoria afgehandel.

Sy het Oscar op ’n aanklag van strafbare manslag vir die dood van Reeva Steenkamp skuldig bevind nadat sy hom gister van moord vrygespreek het.

Sy het Oscar vrygespreek op Aanklag 2, die vuurwapen-aanklag, wat verband hou met die sondak-voorval.

Darren Fresco was ’n oneerlike getuie, het sy gesê. Sy het ook gesê Darren se getuienis het baie verskil van Samantha Taylor se getuienis oor die sondak-voorval.

Sy het verder gesê oor Aanklag 3, die Tasha’s-voorval, dat Oscar in die restaurant dalk nie doelbewus die sneller getrek het nie, maar dat die staat wel bo alle redelike twyfel bewys het dat Oscar die wet hier oortree het en dus skuldig is.

Volgens haar moes Oscar van beter geweet het, aangesien hy met vuurwapens baie goed opgelei is. Die bokser Kevin Lerena se getuienis was hier ook deurslaggewend.

Oor Aanklag 4, die ammunisie-aanklagte, het sy hom ook vrygespreek, aangesien die staat nie sy saak bo redelike twyfel kon bewys het nie.