Ná 49 dae in die tronk kan Oscar Pistorius borgtog kry as die staat slaag in hul aansoek om verlof tot appèl teen sy vonnis en skuldigbevinding, het ’n regskenner Maandag gesê.

“As verlof tot appèl toegestaan word, kan hy vir borgtog aansoek doen en moontlik vrygelaat word terwyl sy regspan hul saak voorberei,” het adv. Mannie Witz van die regsfirma The Bridge gesê.

Oscar sal dalk Dinsdag in die hooggeregshof in Pretoria teenwoordig wees vir die verrigtinge, het Mannie gesê.

Die staat het aansoek gedoen om ’n swaarder skuldigbevinding en vonnis vir paralimpiese atleet.

Oscar is vyf jaar tronkstraf opgelê weens die strafbare manslag van sy meisie, die model en regsgeleerde Reeva Steenkamp, op Valentynsdag verlede jaar. Hy het haar deur ’n geslote toiletdeur geskiet.

Vir die skietvoorval by die restaurant Tasha’s in Melrose Arch in Januarie verlede jaar het Oscar drie jaar tronkstraf gekry, wat vyf jaar opgeskort is.

Die staat het Oscar se vonnis in hofdokumente as “skokkend lig en onvanpas” beskryf.

- Sapa