Hy wil ná sy vrylating graag met kinders werk.

Volgens sy prokureur, Rohan Kruger, bring Pistorius sowat 23 uur van sy dag in ’n isolasievleuel deur en bestee hy die meeste van sy tyd aan Bybellees en bid in sy sel.

Pistorius word in die hospitaalvleuel van die Kgosi Mampuru II-gevangenis in Pretoria aangehou.

Hy is tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis omdat hy sy meisie Reeva Steenkamp op Valentynsdag 2013 doodgeskiet het. Pistorius het beweer hy het gedink sy is ’n indringer.

Kruger het vir die koerant Sunday Times gesê Pistorius is steeds “gebroke en geskok” oor Steenkamp se dood.

Die prokureur het gesê die atleet wil graag met kinders werk in “watter geleentheid hom ook al voordoen”.

Pistorius kan steeds aan moord skuldig bevind word nadat verlof tot appèl teen sy skuldigbevinding aan strafbare manslag aan die staat toegestaan is, het Sapa in Maart berig.

Daar is nog nie ’n datum vir die verhoor in die Appèlhof vasgestel nie.

Bron: News24.com