Anneliese Burgess het gesê haar kliënt was in die BBP-deel van die nagklub toe ’n man (wat intussen as Jared Mortimer geïdentifiseer is) hom nader.

“Volgens my kliënt het die individu hom aggressief begin invra oor sake rakende die verhoor,” het Anneliese gesê.

Anneliese het oor die voorval Saterdag gesê: “Dit het tot ’n rusie gelei waartydens my kliënt gevra het die man moet hom uitlos. Oscar het kort daarna die klub met sy neef verlaat.”

Eyewitness News (EWN) het berig dat Jared beweer het Oscar was dronk en het hom en sy vriende beledig voor hy Jared met sy vinger in die bors gedruk het. Jared het ook aan Beeld gesê dat Oscar "sigbaar dronk" was.

Jared erken egter hy het Oscar gestoot en dié het agtertoe geval en in ’n stoel beland.

Volgens EWN het uitsmyters tussenbeide getree en die bakleiery stopgesit.

Volgens Beeld het nog ’n klubganger beweer Oscar het ná die onderonsie verby hom en ’n vriend gestap en in die verbygaan vir hulle sy middelvinger gewys.

Amptenare van die nagklub, The VIP Room by die Michelangelo Towers in Sandton, het die voorval ontken.

Die woordvoerder van die nagklub, Perry Mermigas, het erken Oscar was by die klub, maar het ontken dat enigiets buitengewoons gebeur het.

“Ons is nie bewus daarvan nie,” het hy aan SAPA gesê.

“Oscar was daar, maar daar was nie ’n onderonsie nie en as daar was, sou ons daarvan geweet het,” het hy gesê.

Intussen berou Oscar sy besluit om na die klub te gaan.

“My kliënt is spyt oor die besluit om na ’n openbare plek te gaan en so onwelkome aandag te trek,” het Anneliese gesê.

Sondag, enkele ure ná die voorval, was Oscar aktief op die sosiale netwerk Twitter.

Die Paralimpiese atleet staan tereg weens moord nadat hy sy meisie, Reeva Steenkamp, op Valentynsdag verlede jaar deur ’n geslote badkamerdeur in sy huis in Pretoria doodgeskiet het. Hy beweer hy het haar vir ’n inbreker aangesien.

Die staat beweer hy het haar tydens ’n rusie geskiet.

- Sapa/Beeld.com