“Dis ’n leuen,” het Oscar gesê toe hy uitgevra is oor sy ontkenning dat hy op 30 September 2012 ’n skoot uit die oop sondak van ’n motor geskiet het.

“Daardie storie is ’n versinsel, U Edelagbare; dit het nooit gebeur nie.”

Die staatsaanklaer Gerrie Nel het toe geantwoord: “Maar dis ’n swak versinsel . . . Dit was ’n vreeslike versinsel tussen hulle twee.”

Oscar het gesê dat hy “gehoor” het daar was kommunikasie tussen Samantha Taylor en Darren Fresco, maar hy weet nie wie hom dit vertel het nie.

Mense in die openbare galery het geproes en Gerrie het ook gelag, maar onmiddellik verskoning gevra.

“U Edelagbare, ek vra verskoning dat ek gelag het, maar ek was verras,” het Gerrie gesê. Hy het belowe dit sal nie weer gebeur nie.

Regt. Thokozile Masipa het die hof streng aangekyk en gesê: “Julle dink dalk dis vermaak; dit is nie. Bedwing julle, asseblief.”

Oscar het vroeër getuig hy kan nie onthou dat hy – soos Samantha getuig het – ná die beweerde voorval in Modderfontein die privaat woning van ’n wapenhandelaar besoek het nie.

Sy het vandeesweek getwiet: “Dis die laaste keer dat jy kan jok . . . Jy moet dit maar die moeite werd maak.”

Dit was nadat Oscar getuig het Samantha wou hê hulle moes versoen raak nadat hulle uitgemaak het, dat sy hom met iemand verneuk het terwyl Oscar oorsee was en dat iemand ’n vals Twitter-rekening geskep het om Reeva Steenkamp te teister.

Samantha het die twiet baie gou verwyder.

Vroeër die dag van die beweerde Modderfontein-skietvoorval was Oscar saam met vriende by die Vaaldam.

Gerrie het Oscar geroskam oor die manier waarop hy vir sy vuurwapen gesorg het terwyl hy saam met ander op ’n boot was en terwyl hy geswem het.

Oscar het gesê hy kon nie onthou waar hy sy pistoolhouer gedra het nie, maar “ek het deurentyd ’n vuurwapen by my gedra”.

Hy het getuig as ’n mens in ag neem saam met wie hy daar was, glo hy nie dit was nalatig om die vuurwapen onder ’n handdoek te los terwyl hy gaan swem het nie.

“Hoekom sê jy nie net dit was verkeerd nie? Dis vir jou onmoontlik om dit te sê,” het Gerrie aangevoer.

Oscar het later toegegee dat hy nalatig was toe hy die vuurwapen onder ’n handdoek gelos het om te gaan swem.

- Sapa