Voordat hy bekendheid op sowel die silwerskerm as die kassie verwerf het, was die gewilde akteur ’n redaksionele spotprent-tekenaar vir die New York Daily News

Hy was veral bekend vir sy rol as Rollin Hand, die man “met ’n miljoen gesigte” in die televisiereeks Mission: Impossible (1966-1969) asook die lokettreffer Cleopatra (1963).

Martin en van sy Mission Impossible-medesterre is wel genader om in die eerste Mission Impossible-fliek met Tom Cruise in die hoofrol, te verskyn.

“Toe die vervaardigers aan ’n vroeë weergawe van die fliek gewerk het (nie die finale draaiboek nie), wou hulle die hele span vernietig, een op ’n slag. Ek was nie gediend daarmee nie,” het Martin in Oktober 2010 aan  MTV News gesê.

'Dis gek om dit te doen’. En die draaiboek was ook nie te waffers nie.

“Dit was basies ’n aksie/avontuurfliek en nie ’n ‘Mission’ nie. ‘Mission’ was ’n kopspeletjie. Die ideale missie sou wees om in en uit te gaan sonder dat enigeen jou gewaar. Die hele tekstuur het verander.

"Hoekom sou ons vrywilliglik ons karakters selfdood wou laat pleeg? Ek het nee gesê. Ek het aan hulle gesê ‘dis gek om dit te doen’. En die draaiboek was ook nie te waffers nie.”

Meer oor Martin Landau

Martin is op 20 Junie 1928 in Brooklyn, New York gebore.

Hy was 17 jaar oud toe hy as ’n redaksionele spotprent-tekenaar vir die New York Daily News gewerk het.

Danksy sy blootstelling aan Sir Charles Spencer "Charlie" Chaplin, beter in die vrye omgang as Charlie Chaplin, het Martin vyf jaar later sy potlode vir die onsekerheid van ’n rolprentloopbaan verruil. Van Hollywood se grootste rebelle voor en agter die skerms, James Dean en Steve McQueen, was van sy beste vriende.

’n Ongelukkigheid oor vergoeding het gemaak dat hy die rol van Mr Spock in die ikoniese Star Trek-fliek van die hand gewys het. Daarop het sy vriend, Leonard Nimoy, die rol van die geliefde spitsoor-karakter vertolk.

Martin het wel verskeie rolle in flieks deur koning van rillerflieks, Alfred Hitchock en die aweregse Woody Allen vertolk.

Hy is drie keer vir daardie gesogte goue beeldjie, ’n Oscar, benoem in sy hoedanigheid as ondersteunende akteur.

  • In 1988 duik sy naam op vir die rol van Abe Karatz in die Francis Coppola-fliek Tucker.
  • Vir sy vertolking van die moorddadige en owerspelige Judah Rosenthal in Woody se fabel Crimes and MIsbehaviours in 1989 beland Martin weer op die lys van genomineerdes vir ’n Oscar.
  • Selfs die eksentrieke Tim Burton het Martin se potensiaal as akteur raakgesien. Hy was die regisseur van die fliek Ed Wood. In 1995 word Martin met ’n Oscar bekroon vir sy rol as die beste ondersteunende akteur in dié fliek waarin hy die rol van die gru-filmster Bela Lugosi vertolk het.

Later sou hy in die wetenskapsfiksie-televisiereeks Space: 1999 weer op die voorgrond tree.

Tog kom dit voor asof Martin, ten spyte van sy imposante figuur en stem, een van daardie akteurs gebly het wat net nooit regtig die kruin van roem kon haal nie.

Selfs nie flieks met die groot kanonne Robert de Niro (Mistress), Al Pacino (City Hall) en Matt Damon (Rounders) het van hom in dieselfde groot ster-kategorie as hulle beland nie.

Hy is vir ’n Emmy benoem vir sy rol in die televisiereeks Without A Trace (2002-2009). Martin het die rol van Jack Malone se pa wat aan Alzheimersiekte ly, vertolk.

Bart Simpson-aanhangers sal wel Martin se stem onthou. Hy was die stemkunstenaar wat The Great Raymondo, die afgetrede towerkunstenaar, in die animasiereeks lewe gegee het.

Twitter se reaksie

Bronne: theguardian.com, cnn.com, mtv.com