Maar nou het president Trump se nuwe immigrasiebeleid in alle waarskynlikheid ’n stokkie gesteek voor die verwagting dat Asghar persoonlik die toekenningseremonie sal kan bywoon.

Hy is afkomstig van Iran, en sou die nuwe immigrasiebeleid wel toegepas word, sal hy op geen manier toegelaat word om na Amerika te gaan nie.

Amptenare van die Motion Picture Acadamy het Saterdag ’n mediaverklaring uitgereik waarin hulle die gerugte rondom die verbod op toegang vir Asghar as besonder kommerwekkend bestempel het.

Oscar-nominasies 2017: Wie gaan daardie goue beeldjie in ontvangs neem?

Daarin word onder meer gesê dat die Akademie daarop gemik is om prestasie te vereer in die kuns van films, wat poog om grense oor te steek en gehore rondom die wêreld aan te spreek, ongeag nasionaliteit, etnisiteit of geloofsverskille.

"As ondersteuners van filmvervaardigers – en die menseregte van alle mense – wêreldwyd, vind ons dit uiters kommerwekkend dat Asghar Farhadi, die regisseur van die Oscar-bekroonde fliek van A Separation (2012), saam met die akteurs en betrokkenes van vanjaar se genomineerde fliek The Salesman, verbied kan word om die land binne te kom vanweë hul geloof of land van oorsprong.”

Tydens die Cannes-filmfees in 2016 is die fliek met twee van die fees se groot toekennings vereer: die beste draaiboek en beste akteur (Shahab Hosseini).

Die fliek handel in kort oor ’n jong paartjie, Emad (Shahab Hosseini) en Rana (Taraneh Alidoosti), wat noodgedwonge na ’n ander woonstel moet verhuis. ’n Voorval rakende die vorige inwoner van dié woonstel sou weldra ’n dramatiese invloed op die twee se lewe hê. Trump het Vrydag ’n dokument onderteken waarvolgens immigrasie vir inwoners van sewe lande wat oor ’n aansienlike aantal Moslem-inwoners beskik, vir die volgende 90 dae verbied sal word.

Dit sluit die volgende lande in: Irak, Iran, Soedan, Libië, Somalië en Jemen. Volgens die nuut-aangestelde president word daar gepoog om nuwe maatreëls in werking te stel om “radikale Islamitiese terroriste uit die Verenigde State te hou”.

Bronne: covermedia.com, toledoblade.com, imdb.com, indiewire.com