'Dit het gelyk of die situasie hom oorweldig het.'

“Ek het opgekyk en dr. Stipp gesien. Ek het na hom geskree om hulp, dat hy Reeva moes help, maar dit het nie gelyk of hy weet wat hy doen nie. Dit het gelyk of die situasie hom oorweldig het,” het Oscar gesê onder aanvoering van sy prokureur, Barry Roux.

Johan Stipp, ’n inwoner van die Silver Woods-landgoed in Pretoria, het vroeër vir die staat getuig dat hy Reeva byna dood op die grondverdieping van Oscar se huis gevind het met Oscar wat langs haar gekniel het. Oscar se vingers was in haar mond in ’n poging om haar te help asemhaal en sy ander hand was op die koeëlwond aan haar heup.

Oscar het Reeva op 14 Februarie verlede jaar deur ’n geslote toiletdeur geskiet nadat hy haar vir ’n inbreker aangesien het. Hy het haar daarna oor die toiletsitplek gevind. Sy is in die heup, arm en kop geskiet.

Oscar het getuig dat Johan ná ’n paar minute opgestaan en uitgestap het. “Ek het op hom geskree om terug te kom en my te help.”

Die paramedici het kort daarna opgedaag en gevra vir ruimte om Reeva te help. Oscar het kombuis toe gegaan. “Die paramedikus het na my toe gekom en vir my gesê sy wil my inlig dat Reeva dood is.”

Oscar het na regt. Thokozile Masipa gekyk terwyl hy met verskeie ruspouses getuig het.

- Sapa