Dit was ’n doodgewone aand by die nagklub Pulse in die hartjie van Orlando. Die dansbaan was propvol partytjiegangers wat hulself gate uit geniet het. Tot die gewapende man omstreeks 2 uur Sondagoggend die klub binnestorm en mense voor die voet begin skiet.

Vyftig mense het gesterf en van die 53 ander wat beseer is, verkeer talle in ’n kritieke toestand. Die presiese motief is nog onbekend, maar daar word gesê dat die aanvaller doelbewus vir Pulse geteiken het omdat dit ’n gay-klub was.

Dit is wat ons tot dusver van die skieter weet:

Lees ook: 50 dood, talle beseer ná massaskietery by nagklub

Die polisie van Orlando en die FBI het die skieter as ene Omar Mateen (29) van Fort Pierce in Florida identifiseer. Hy het as veiligheidsbeampte vir G4S gewerk.

Gister was egter nie die eerste keer dat die owerhede van Omar Mateen te wete gekom het nie.

Hy is glo reeds ’n paar jaar gelede ondervra rondom aanvegbare opmerkings teenoor kollegas en later weer oor moontlike bande met ’n Amerikaanse selfdoodbomdraer in Sirië in 2014.

Mateen het egter die treknet ontglip omdat daar nie voldoende getuienis was om sy dreigemente verder te ondersoek nie.

Mateen se pa, Seddique Mir Mateen, het na bewering die Amerikaanse media verseker dat dié aanval eerder uit sy seun se haat teenoor gay mense voortgespruit het as wat dit met radikale geloofsoortuigings te make het.

Hy beweer voorts dat ’n voorval tydens die Amerikaanse LGBT Pride-maand in alle waarskynlikheid tot sy seun se optrede gelei het.

“Hy het twee mans gesien wat mekaar voor sy vrou en kinders gesoen het; hy het baie kwaad geword,” het Seddique aan NBC News gesê.

Kevlar het dié polisieman se lewe gered:
Vasgekeer in die badkamer met ’n massamoordenaar op pad – die boodskap wat geen ouer ooit wil ontvang nie:

Mateen se eks-vrou, Sitora Yusify, het glo vertel dat hulle vir die laaste sewe, agt jaar geen kontak gehad het nie nadat hul huwelik stormagitig op die rotse geloop het.

“Ek was vir vier maande by hom. Toe het my familie my gered en ek het met egskeidingsprosedures voortgegaan.

“Hy het ’n baie vinnige humeur gehad en hy het gereeld in ’n bakleiery en argumente met sy ouers betrokke geraak.

“Ek vermoed omdat ek die enigste een in sy lewe was, was die meeste van sy gewelddadigheid op my gefokus,” het sy in ’n opname aan Sky News bekend gemaak.

Sy het hom ook tydens ’n volgende televisie-onderhoud as bipolêr bestempel. Hy was “geestelik onstabiel, geestelik siek” en duidelik “versteurd”.

Sy ontken egter dat hy tydens hulle tyd saam enige bande met die militante groep ISIS gehad het.

Terwyl families en vriende in rou gedompel is, is daar minstens een mens wat jubel oor die dood van 50 mense.

Pastoor Steven Anderson van Faithful World Baptistekerk in Arizona het in 2014 aangevoer dat alle homoseksuele mense teen Kersdag van daardie jaar tereggestel moes word.

Nadat hy van die tragedie in Orlando gehoor het, het hy ’n video uitgereik waarin hy die slagoffers “Sodomiete” noem.

“Die goeie nuus is dat daar 50 minder pedofiele in die wêreld is, want, jy weet, hierdie homoseksuele is ’n spul walglike verdraaides en pedofiele," het Steven gesê. “Dis wie die slagoffers is, net ’n spul walglike homoseksuele by ’n gay kroeg, okei?”

In sy lang relaas spreek hy ook sy verligting uit dat die 50 slagoffers nooit weer kinders sal kan seermaak nie.

“Die slegte nuus is dat ’n klomp van dié 'homo’s' nog leef.”

Sover bekend het Mateen op eie inisitief opgetree toe hy die nagklub met ’n handwapen en ’n aanvalsgeweer binnegegaan het.

President Barack Obama het die voorval as "hartbrekend" beskryf omdat die klub ’n veilige toevlug was waar vriende bymekaar kon kom, kon dans en sing, en om te leef.

“Ons weet genoeg hiervan om te sê dit was ’n daad van terreur en ’n daad van haat,” het hy gesê.

“Geen terreurdaad of daad van haat sal verander wie ons is nie,” het hy ook gesê kort voordat hy beveel het dat alle Amerikaanse vlae tot Donderdag halfmas moet wapper ter nagedagtenis van die Orlando-slagoffers.

Bronne: wsj.com, cnn.com, latimes.com