Orlando Bloom en Miranda Kerr se huweliksbootjie het gesink.

Die A-lyspaartjie het bekendgemaak hulle het hul huwelik van drie jaar vriendskaplik beëindig en sal mekaar steeds ondersteun met die grootmaak van tweejarige seun, Flynn.

Orlando se woordvoerder het gesê: “Orlando Bloom en Miranda Kerr het in ’n gesamentlike verklaring bekendgemaak hulle is al die afgelope paar maande vriendskaplik uitmekaar. Ná ses jaar saam het hulle besluit om hul skeiding te formaliseer.

“Al is hul huwelik verby, het hulle mekaar lief en ondersteun en respekteer hulle maar as ouers van hul seun en as gesin.”

Die Pirates of the Caribbean-ster het in 2007 met die Victoria’s Secret-model begin uitgaan.

Hulle is drie jaar later in Julie 2010 getroud en het hul seun in Januarie 2011 in die wêreld verwelkom.

Orlando het onlangs sy huis in Hollywood Hills in Los Angeles vir R45 miljoen in die mark gesit.

Miranda (30) en Orlando (36) is in September laas saam gesien by die openingsaand van ’n nuwe Broadway-produksie van Romeo and Juliet, waarin hy die titelrol speel.