Die Delft Big Band is in Augustus 2008 gestig onder die direkteurskap van Ian Smith en assistant-direkteur Dayna Pearce.

Die orkes teiken weerbare jong mense van hoërskole in die Delft-omgewing. Die orkeslede kom uit minderbevoorregte agtergronde, soos Ian verduidelik: “Die orkes is die antwoord om dié kinders van die strate te hou en hulle in staat te stel om hul lewens te verander deur die positiewe invloed van musiek.”

Deur dié program, wat vroeë ingryping as sleutelelement het, word musiek gebruik om die jeug van waardevolle lewensvaardighede te voorsien. Tans neem meer as 100 leerders uit die Delft-omgewing deel aan die program, waarvan die meer gevorderde musikante die Delft Big Band uitmaak. ’n Aantal leerders het in werklikheid weer geregistreer vir skool danksy hul betrokkenheid by die orkes.

Die nuwe orkes het reeds by ’n hele aantal hoëprofielgeleenthede opgetree en groot lof ontvang, insluitend die Sekunjalo Edujazz-konsert, Cape Town Big Band-fees by die Baxter en die Kaapstadse Internasionale Jazzfees. Die orkes het by twee geleenthede in Swede vir koningin Sylvia opgetree vir die World Children’s Prize en 5 lede het onlangs teruggekeer van ’n 10-dag-toer deur Frankryk.

Wat merkwaardig is, is die veranderings wat in baie jong mense se lewens gemaak word. Lorenzo, ’n voormalige orkeslid, is nou ’n professionele musikant en het al internasionaal opgetree. Nog ’n orkeslid, Adelia, het ’n gesogte beurs ontvang om jazz by die Berklee College of Music in die VSA te gaan studeer.

Ian is duidelik baie trots op die prestasies van sy studente. “Mense is besig om die fenomenale impak raak te sien wat die orkes op sy lede, hul gesinne, vriende en omliggende omgewing het. Dit is ’n uiters bevredigende gevoel om te weet dat ons mense se lewens op ’n positiewe, tasbare manier verander deur die krag van musiek.”

Die behoeftes van die orkes sluit in befondsing en musiektoerusting - kontak:

Ian Smith

082 458 3176

ian@vjr.co.za

Vir meer stories soos dié, besoek: www.youcanhelp.co.za.