Chris het gister op die kampus van die Umpqua Community College in Roseburg in die Amerikaanse deelstaat Oregon op studente losgebrand en nege doodgeskiet.

Hy het glo dosyne skote in ’n klaskamer vol studente afgevuur voor hy in ’n skietery tussen hom en die polisie doodgeskiet is.

Die skote het Donderdag om 10:40 (20:40 Suid-Afrikaanse tyd) op die kampus begin klap.

Plaaslike media berig dat Chris glo voor die aanval op sosiale media oor sy beplande aanval geskryf het. Die polisie fynkam nou sy aanlyn bedrywighede vir leidrade oor ’n moontlike motief.

Luidens berigte sê ooggetuies die skieter het in ’n stadium vreesbevange studente beveel om op te staan en te verklaar wat hul geloofsoortuiging is voor hy op hulle begin skiet het.

The Guardian berig Chris is oorspronklik van Engeland en het as jong kind na die VSA verhuis.

Sy aanlyn bedrywighede wys tekens van ’n obsessie met die Ierse Republikeinse Leër, die weerstandsbeweging wat vir Ierland se onafhanklikheid geveg het.

Daar is ook tekens dat Chris video’s van die Sandy Hook-skoolskietery, wat in Desember 2012 plaasgevind het, aanlyn gedeel het, onder meer die BBC-dokumentêr Surviving Sandy Hook.

Kort voor die aanvalle het kriptiese boodskappe op die aanlyn fotowebtuiste 4chan verskyn. ’n Anonieme gebruiker het Donderdagoggend ’n beeld gedeel met die teks: “Party van julle ouens is oukei. Moenie môre skool toe gaan as julle in die noordweste is nie.”

Alle inskrywings op 4chan is outomaties anoniem, dus is dit onmoontlik om te bevestig dat dit Chris is wat dit gedeel het.

Buiten die nege (en Chris) wat dood is, is sewe studente gewond. Hulle is in die Mercy mediese sentrum in Rosenburg opgeneem.

Rosenburg is ’n dorp met sowat 22 000 inwoners. Die Umpqua-kampus bestaan uit 17 geboue. Die skietery was blykbaar in die wetenskapvleuel.

Dit is nog onduidelik of Chris ’n student daar was.

Bronne: Netwerk24; CNN; The Guardian