’n Blinde predikant het ’n klag teen die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika (Acsa) ingedien, want ’n beampte wou nie sy gidshond saam met hom laat reis nie, berig Beeld vandag.

Willem van Deventer, sy vrou, Claire, en sy hond, Tonto, het amper ’n familietroue in Kaapstad misgeloop toe ’n beampte by die OR Tambo internasionale lughawe nie sy hond saam met hom wou laat vlieg nie.

Toe Willem verlede jaar sy vlug bespreek het die reisagent gesê daar sal geen bykomende reëls rakende Tonto wees nie.

Maar ’n “arrogante en onbeskofte” beampte het aangedring op ’n gesondheidsertifikaat en ’n sertifikaat wat bewys die hond is by die Suid-Afrikaanse Gidshondvereniging geregistreer.

Gail Glover, voorsitter van die vereniging, het ingegryp en die Van Deventers en Tonto is op ’n later vlug ingedruk.

Die Acsa-woordvoerder Unathi Batyashe-Fillis het gesê die onderneming het ’n beleid dat lugrederye Acsa twee dae voor die vlug van die vertrek van diere in kennis moet stel.

Die beampte het die reg om prosedures te laat geld, maar nie op die manier wat beweer word nie, sê sy.

“Sy beweerde gedrag word ondersoek.”

- Sapa