Verskeie vreedsame optogte en massabyeenkomste gaan na verwagting Vrydag landwyd plaasvind. Dié optogte teen pres. Jacob Zuma word deur verskeie organisasies en politieke partye gereël, en duisende mense gaan vermoedelik hul werkdag vir ’n optog verruil.

Dra gemaklike skoene. ’n Optog is nie regtig die plek om ’n modestelling te maak nie; dit behels baie en ver stap. Dit beteken ook jy gaan dalk lank staan. Jou gewone kantoorskoene gaan nie deug nie. Goeie stapskoene sal jou voete droog en warm hou.

Trek warm genoeg aan. Volgens die weervoorspellingsblad yr.no gaan dit Vrydag koelerig wees in Kaapstad. Vat ’n baadjie saam. Jy kan dit altyd uittrek as jy warm kry.

Pretoria kan ’n maksimum temperatuur van 24°C verwag en reën word voorspel. Vat iets warms en oorweeg ’n reënjas of sambreel.

Johannesburg gaan ook effens bewolk wees, en van 12:00 af word reën verwag. ’n Maksimum temperatuur van 21°C word voorspel.

Onthou ’n hoed en sonskerm, al is dit bewolk.

Alles wat jy saamneem, gaan jy self moet dra. Moet dus nie jou sak te swaar laai nie.

As jy wel ’n sak byderhand wil hê, maak seker jy het genoeg water om te drink, sê Russel Meiring, woordvoerder van ER24. “Vat ’n paar bottels saam omdat jy dit nie noodwendig iewers sal kan koop nie.” ’n Energiestafie of vrugte kan ook nuttig wees, veral as die betoging of optog nie by winkels verbybeweeg nie.

Vat ’n draagbare batterylaaier vir jou selfoon saam. Jy gaan waarskynlik foto’s en video’s wil neem van die dag se gebeure en jou selfoonbattery gaan nie lank hou nie. Maak ook seker jou selfoon het genoeg krag sodat jy iemand kan bel as jy opgelaai moet word.

Moenie alleen gaan nie. Gaan saam met ’n vriend, familielid of kollega. Maak seker julle weet heeltyd waar die ander is. Dink ook aan ’n plan in geval julle mekaar tussen die massas verloor. (Onthou: Selfoonopvangs is nie altyd so goed wanneer soveel mense op een plek saamdrom nie.)

Los jou waardevolle besittings by die huis.

Vat kontant saam. Jy gaan dalk langs die pad kos of water wil koop.

Russel stel voor jy hou ’n lys van noodnommers by jou ingeval jy hulp nodig het of as daar ’n noodgeval is.

As jy mediese hulp nodig het, kan jy 084-124 bel of die polisie vra om te help.

“Maak seker jy is bekend met die gebied waar die optog plaasvind. Maak ook seker jy weet waar die naaste nooddienste, hospitaal en plaaslike owerhede is,” sê Russel.

Vat ook een of ander identiteitsdokument saam.

Ekstra bronne: NYMag.comTheGuardianWardrobeOxygen.com