Die Universiteit van Kaapstad (UK) het Vrydag al hulle klasse tydelik gestaak nadat studentebetogings op die kampus uitgekring het.

Ook by die Universiteit van Pretoria is studente rumoerig oor 'n boodskap op 'n Whatsapp-groep waarin een student swart studente "'n kanker vir die samelewing" genoem het en op Stellenbosch is die vrede maar pas herstel nadat studente tot gisteraand die universiteitsbiblioteek versper het. Hulle dring daarop aan om met die rektor, Wim de Villiers, oor klasgelde te praat.

"Geen Visekanselier wil konflik op sy of haar kampus hê nie, en dit is jammer dat daar vandag wrywing was. Ons doen egter ons bes om die situasie op te los," het prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier, Vrydag in 'n verklaring gesê. Dit volg kort op die hakke van betogings by die Universiteit van KwaZulu-Natal (UKZN), waar studente verlede week kapsie gemaak het teen voorgestelde klasgeldverhogings. Die stof het net gaan lê, toe studentehumeure weer opvlam nadat die radiopersoonlikheid Phat Joe Vrydag dié kampus se studente as "die slegste mense op aarde" bestempel het. "Klasse vir Vrydagmiddag is tydelik opgeskort sodat ons die situasie kan ondersoek en bykomende veiligheidsmaatreëls in werking kan stel," het die UK se woordvoerder Kylie Hatton in 'n verklaring gesê. Die meerderheid betogings op kampusse is uit ontevredenheid oor klasgeldverhogings vir 2017 en die manier waarop studente beweer hulle hanteer word nadat hulle betoog.

Die UKZN het ook Vrydag 'n streng waarskuwing aan studente gerig en hulle herinner aan die universiteit se reëls rondom saamtrekke.
Op Twitter het dit gegons oor die studentebetogings wat landwyd voortwoed en het dit geblyk niemand weet wat die oplossing hiervoor is nie.