Eben van Niekerk (27) word aangekla van die ontvoering en verkragting van en moord op die gewilde 21-jarige Matie op 27 Mei 2017. Vandag se verskyning het te doen met sy aansoek om borgtog.

Hannah se bebloede lyk is einde Mei by Knorhoek, sowat 10 km buite Stellenbosch, gevind. Sy is herhaaldelik met 'n skerp voorwerp gesteek en om die beurt verkrag.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag, het aangedui nog klagte sal gelê word. Dit hou verband met die aanranding van Cheslin Marsh (20), wat saam met Hannah ontvoer is.

Cheslin se arm is in die aanval gebreek en hy het verskeie kopwonde opgedoen nadat hy met bakstene gegooi is. Sy oortromme is ook in die aanval beskadig.

Hy het daarin geslaag om te ontsnap.

Van Niekerk se medebeskuldiges het reeds hul aansoek om borgtog laat vaar.

Nashwill Julies (28), Vernon Witbooi (32) en Geraldo Parsons (26) sal weer op 28 Julie in die hof verskyn. Hulle staan tereg op aanklagte van moord, poging tot moord, motordiefstal, roof met verswarende omstandighede, ontvoering en verkragting.

Ekstra bronne: news24.com, iol.co.za