Volgens Le Roux van der Walt, ’n Kaapse belastingkonsultant, kan enigiemand nog rustig wees wat ’n onderneming besit of vir hom- of haarself werk; dié belastingopgawes moet eers teen Januarie 2014 ingedien word.

Maar as jy ’n werknemer is wat meer as R120 000 per jaar by ’n enkele werkgewer verdien het, kan Jan Taks jou tjoekie toe sleep as jy nie teen Vrydag jou inkomste by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) verklaar nie.

“Jy kan gestraf word, gedagvaar word en selfs tronk toe gaan,” sê hy, “hoewel (die SAID) meesal net mense wat baie geld skuld of tot vier jaar agter is met hul belastinginvordering, agter tralies sit.

“’n Boete sal wel jou voorland wees as jy belasting ontduik. Die boetes word gegrond op ’n glyskaal,” verduidelik hy.

“Die minimum is R250 per maand vir solank as wat jou belastingopgawe uitstaande is, maar dit kan selfs tot R1 000 en meer per maand wees, na gelang van jou inkomste; hoe meer jy verdien, hoe meer sal jy skuld.

“En onthou: Dis per maand. As jy 12 maande laat is en jou boete is R1 000 per maand, sal jy ná ’n jaar R12 000 moet opdok.”

Hy sê daar is drie maniere om nog jou belastingopgawe in te dien: by ’n SAID-kantoor, aanlyn deur e-filing, of by ’n belastingkonsultant.

“Dié tyd van die jaar is belastingkonsultante ontsettend besig; hulle kan jou tot R3 000 vra vir hul dienste, maar die meeste vra R600 tot R700.”

“Die slaggat met e-filing is dat mense ongelooflik baie foute op e-filing maak en dit is omtrent ’n storie om die foute reg te maak; daar is nie ’n undo-knoppie nie.

“Onthou, e-filing is wettig. As jy ’n fout indien en (die SAID) bevind jy skuld hulle geld, hou hulle jou aanspreeklik daarvoor.

“Maak dus baie, baie goed seker al jou inligting op e-filing is korrek voor jy klik op die Are you sure you want to submit?-knoppie.”

 Christiaan Boonzaier