Die mediamagnaat, wat deur die jare gereeld oor haar stryd teen die vetrolletjies gepraat het, is deesdae ’n aandeelhouer in en woordvoerder van die dieethandelsmerk Weight Watchers.

En Oprah het haar aan die gesonde eetplan onderwerp en haar gewigsverliesdoelwitte behaal deur te hou by dit wat werk.

“Ek is steeds op die Weight Watchers-eetplan. Ek tel elke dag die punte en dit gebeur maar stadig,” het sy in ’n onderhoud met Entertainment Tonight gesê. “Ek is dol daaroor.”

Lees ook: Oprah Winfrey praat oor ‘geheime seun’

Gewigsverlies en om gemotiveer te bly ten opsigte van haar maaltydplan word vir die 62-jarige Oprah versterk deurdat ’n opmerklike verandering aan haar figuur te bespeur is. Sy het ook beklemtoon sy is nie van plan om haar doelwit te bereik deur die skaal dop te hou nie.

“Dis ’n gevoel wat by jou opkom in die stadium waar (jy dink) ‘O, ek kan winkel toe gaan en ek kan daardie grootte kies, dit is beskikbaar – ek hoef dit nie te laat verstel en al daai twak nie.’ So, ek sal weet wanneer ek daar is,” het sy gedeel.

Sy het verlede maand haar planne bekend gemaak om haar gesonde dieet en geliefkoosde resepte in ’n nuwe kookboek, Food, Health and Happiness: ‘On Point’ Recipes for Great Meals and a Better Life, te deel. Die boek sal in Januarie volgende jaar bekendgestel word.

Oprah vertel verder dat sy nou haar aandag vestig op die groei van haar eie televisienetwerk en publikasieprojekte en sy is glad nie spyt dat sy in 2011 haar legendariese geselsprogram, The Oprah Winfrey Show, vaarwel toegeroep het nie. Die program was ’n kyksyfertreffer, maar die ster reken dit was die regte tyd om iets anders te doen.

“Dit was die heerlikste, beste platform wat enigiemand kan hê om elke dag met miljoene mense te praat en ek dink ek het dit presies op die regte tyd verlaat,” het sy voortgegaan. “Nou kry ek die kans om stories op ’n ander manier oor te dra”.

© Cover Media