.

Die skinderpers het beweer die 61-jarige biljoenêr-mediamagnaat was verstom toe sy Calvin Mitchell op 15 Oktober buite die Ed Sullivan-teater in New York sien en sommige het na hom as haar “geheime seun” verwys.

Oprah ken Calvin en sy familie sedert hy ’n klein seuntjie was, maar is nie sy ma nie. “Ek het Calvin in die vroeë 1990’s ontmoet; ek dink dit was 1992,” het sy aan ET Online gesê.

“Ek het ’n TV-fliek gemaak, genaamd There Are No Children Here. Ons het in ’n arm woonbuurt in Chicago geskiet en ek het tydens ’n blaaskans op die stel gesit toe hierdie oulike blinkoog-seuntjie onderdeur die geel band kruip en vir my ’n koeldrank gee.

“Ek was so bekoor deur hom dat ek met hom oor sy familie en skool gesels het en vind toe uit sy ma het nie ’n werk nie en hulle woon daar.”

Oprah en haar lewensmaat, Stedman Graham, het aktief by Calvin se lewe betrokke geraak nadat hulle hom ontmoet het.

Die paartjie het Calvin en sy gesin uit die woonbuurt laat trek, sy het betaal vir sy opvoeding aan ’n kosskool, maar die ster van The Butler was eindelik “teleurgesteld” met Calvin se keuses omdat hy skool wou verlaat nadat “die onderwysers nie van hom gehou het nie”.

“Ek het gesê: ‘Calvin, dit is die oomblik. Dis ’n belangrike oomblik vir jou. Ek weet jy’s 16 en kan nie die pad vorentoe sien nie, maar as jy skool verlaat en weier om ’n opvoeding te ontvang – ek het twee keer vir jou ’n opvoeding aangebied – is daar nie nog ’n skool waarin ek jou kan sit nie. As jy die skool verlaat, is ek klaar.

“‘Daar is niks meer wat kan doen nie.’ En dit was my laaste gesprek met Calvin in die vroeë 1990’s.”

Oprah meen die skinderstorie oor haar kortstondige ontmoeting met Calvin ná ’n verskyning op The Late Show with Stephen Colbert was ’n lokval sodat hy geld kon kry.

“Ek kon die klein seuntjie in sy oë sien, hoewel die tyd hom baie verander het, en ek het vir hom gesê: ‘Wat doen jy? Hoekom het jy na die skinderpers gegaan?’” vertel Oprah.

“Toe ek wegstap, het hy so wanhopig gelyk en gevra: ‘Kan ek met jou praat?’ Toe sê ek vir een van my werknemers kry asseblief Calvin se nommer sodat ek hom later kan bel. Ek het nie besef die hele ding was vooraf so beplan nie. Toe ek dit besef, het ek nie meer daarin belanggestel om met hom te praat nie.”

BRON © Cover Media