Oprah Winfrey gaan nooit trou nie.

Die geselsprogram-legende en aktrise (59) en haar kêrel, Stedman Graham (62), gaan al byna drie dekades uit. Sy sê hulle is nie van plan om te trou nie.

Gevra of sy die aarde sal verlaat as ’n vrou wat nooit getrou het nie, het Oprah gesê: “Ja, ek dink dis my finale antwoord.”

Die ster van The Butler het tog erken sy het onlangs aan trou gedink. Dit was nadat sy in Julie haar vriendin Tina Turner se troue met Erwin Bach in Switserland bygewoon het. “Tina het gesê: ‘Oprah, jy moet dit doen. Jy moet dit doen.’ En ek het gedink: Wel, goed, sal enigiets regtig verander? En nee, ek dink nie so nie.”

Dit lyk asof Stedman ewe tevrede met hul verhouding as Oprah is. Sy het aan Access Hollywood gesê:  “As jy ooit ’n onderhoud met hom sou voer, sal hy jou vertel ons sou nie bymekaar gewees het as ons getroud was nie. Hy is ’n konvensionele man en dis ’n baie onkonvensionele verhouding. En ek dink dis aanvaarbaar as ’n verhouding, maar as ek die titel van vrou gehad het, dink ek daar sou ander verwagtinge gewees het oor wat ’n vrou is en doen.”