Die afgetrede fisikus Charles D. Goodman beweer Oprah se maatskappy Yellow Brick Road het ’n geheime ooreenkoms gesluit met die eiendom se vorige eienaars en die dorpie Mountain Village om die paaie te sluit wat oor die eiendom loop. Die eiendom kos sowat R114 miljoen en is in Maart verkoop.

Die Denver Post het Donderdag berig die voormalige eienaars, Hoyt en Carol Barnett, het ’n korrigering van die eiendomsrekords aangevra kort voor die grond verkoop is. Charles beweer dit het serwitute uitgewis wat die inwoners van nabygeleë huise toegelaat het om die voetslaanpaaie te gebruik.

Mountain Village sê die bewerings is onwaar. Die direkteur van gemeenskapsontwikkeling, Chris Hawkins, het gesê die korrigering het net dubbelsinnighede opgeklaar en die dorp en Oprah se span wil steeds toegang tot die paaie toelaat.

In ’n geskrewe verklaring het ’n woordvoerder vir Yellow Brick Road, Wendy Luckenbill, gesê die maatskappy gaan met die bure saamwerk om hulle redelike toegang oor dele van die grond te gee.

Die voetslaanpaaie is in 1989 gestig ná onderhandelinge tussen Charles en die Amerikaanse bosboudiens, wat toe die grond besit het.

Oprah beoog om later vanjaar ’n herehuis en gastehuis op die eiendom te bou. Bouplanne vir die huise is nog nie ingedien nie, maar die projek gaan vereis dat daar ’n brug oor ’n skibaan gebou word en tussen 800 en 1 000 bome verwyder word om die dorp se beleid oor veldbrande na te kom.

- Sapa