OWN se programme sal Donderdae en Sondae op spitstyd uitgesaai word. Programme sal insluit die geliefde Oprah’s Next Chapter, Oprah’s Lifeclass, Oprah’s Master Class en Super Soul Sunday.

James Gibbons, die mede-eienaar van OWN en senior visepresident van Discovery Communications, het gesê die kanaal se inhoud sal geskik wees vir plaaslike kykers.

Oprah (59) se netwerk kon ten spyte van haar gewildheid aanvanklik nie die verwagte getal kykers lok nie. Die stadige begin het haar op die randjie van ’n senu-ineenstorting gehad, maar sy sê nou hulle het uit hul foute geleer.

Haar netwerk is eiesoortig, het sy aan The New Age gesê. “Ons by OWN is dinamies; wat jy vandag sien, sal jy dalk nie in die volgende drie, ses of selfs 12 maande sien nie. Ons is trots op ons programme en gee ons kykers net die beste.”

Oprah is in die land om die eerste O You!-leierskapskonferensie aan te bied. Sy sal ook ’n graadseremonie by haar Leadership Academy for Girls bywoon.

-          KOKETSO MASHIKA

Twitter:@koketsoMashika

Bronne: channel24.co.za, thenewage.co.za