Baie mense meen rocksterre gaan nie hemel toe nie. Maar as daar wel vir hulle ’n hemel is, sal dit in die Bosveld wees, word gesê.

Hierdie naweek gaan sowat 20 000 musiekliefhebbers, studente en kunstenaars weer op die Oppikoppi-plaas buite Northam in Limpopo toesak vir ’n naweek van huilende kitare, bulderende tromme en lafenis in die Bosveld. Indien jy een van die feesgangers is wat vanjaar die stof gaan aanpak, is hier ’n paar riglyne om te sorg dat jy die naweek oorleef en ten volle kan ruk-en-rol. 1) Laat hy val waar hy wil Hoewel Oppikoppi ’n sorgelose naweek vol pret en plesier is, moet jy te alle tye gehidreer bly. Ná ’n paar biere en as die Bosveldson jou eers begin piets, gaan jou liggaam kla. Koop ’n 5 L-waterkan voor jy gaan. Dit is ook nuttig as jy jou hande wil was of ’n koppie wil uitspoel, want Oppikoppi kan vuil raak.

2) So gepraat van piets . . . Die son is nie jou maatjie nie. As jy dink jy gaan soos Rambo daar rondloop met jou help-my-sterk-lyk-hempie, gaan jy so rooi soos Julius Malema se pet terugkom. Vat sonroom saam en smeer gereeld aan. ’n Breërandhoed of ’n keps is ook ’n goeie idee. 3) Sies! Jou vuil uil Teen dié tyd behoort jy te weet Oppikoppi sal nooit dien as ’n goeie plek vir ’n Handy Andy-advertensie nie. Dit is vuil en vol stof. Dus moet jy óf vroeg in die oggend die ablusieblok gebruik óf afveedoekies saamneem. Die beste opsie is gewoonlik doekies. Die stof is geneig om soos kakiebos aan ’n man te kleef. 4) Twee is beter as een Oppikoppi is groot, my maat. Dit is maklik om te vergeet waar jy jou tent ingeslaan het en dit is nog makliker om jou kamerade te verloor. Maak seker jy het ’n buddy-stelsel in plek. Laat jou kamerade weet waar jy is en beweeg in groepe.

5) Probeer iets nuuts

Talle kunstenaars tree op en dit kan moeilik wees om by almal uit te kom, maar gaan kyk na ’n groep van wie jy nog nie tevore gehoor het nie. Jy is dalk net mal oor hulle. En indien jy saligheid soek en nie lus is om tussen jillende studente na Fokofpolisiekar te kyk nie, is daar altyd die boonste bar. Hier kan jy uitsien na digters, akoestiese optredes deur ouens soos Gert Vlok Nel en rustig onder die skadu van ’n doringboom sit en die keel met ’n koue enetjie lawe.

Indien jy onseker is van wat om saam te neem, hier is ’n kortlys van noodsaaklikhede:

  1. Tent
  2. Koelboks
  3. Flitslig
  4. Kampstoel
  5. Braaier
  6. Waterbottels
  7. Afveedoekies
  8. Slaapsak en kussing
  9. Warm klere vir die aand
  10. Somerklere vir die dag
  11. Hoed
  12. Sonroom