’n Babaoppasser wat daarvan beskuldig word dat hy ’n eenjarige seuntjie mishandel en ernstige kneusplekke besorg het, is eindelik aangekla nadat mense op sosiale media hul woede daaroor gelug het.

Toe Joshua Marbury en Alicia Quinney, ’n paartjie van die Amerikaanse deelstaat Oregon, ’n paar maande gelede tuiskom, het hulle hul seun, Jacob, huilend op die vloer aangetref terwyl sy oppasser en ’n gesinsvriend, Markell Hilaire, op die rusbank lê en slaap het.

“Jacob se blou oog het my dadelik opgeval,” het Alicia aan KPTV vertel. “Ek’t gevra: ‘O goeiste, wat het gebeur?’ En toe hy draai, het ek gesien die hele een kant van sy gesig is pimpel en pers.”

Ten spyte daarvan dat Markell erken het hy het die seuntjie “geklap”, moes die paartjie hoor dat die oppasser nie aangekla sou word nie.

Op 28 Mei 2016 het ons dié ontstellende artikel op ons webwerf gedeel: Die skokkende rede waarom die kinderoppasser wat dié baba ‘mishandel’ het, nie aangekla word nie

“Ná twee maande se gewag het ons uitgevind die aanklag teen haar is laat vaar omdat my eenjarige nie self kon sê hy is mishandel nie. My seun het ook nie gewys dat hy in pyn verkeer of dat die persoon dit ‘opsetlik’ gedoen het nie,” het die gefrustreerde pa twee weke gelede op Facebook geskryf. Die plasing is intussen meer as 408 000 gedeel en gebruikers van sosiale media het geëis dat beamptes optree. Die voorval het ook gelei tot ’n aanlyn petisie waarin gevra is dat die hooggeregshof in Oregon wetgewing in dié deelstaat wysig wat vereis dat aanklaers moet bewys die slagoffers verkeer in aansienlike pyn en het ernstige beserings opgedoen. Meer as 56 300 mense het tot dusver die versoekskrif onderteken. En nou, ná weke van wydverspreide woede, word die oppasser aangekla weens strafregtelike mishandeling en aanranding.

“In hierdie stadium is ons saak in die regstelsel se hande,” het Alicia op Facebook geskryf.

“Dankie vir die volgehoue ondersteuning terwyl die saak voortduur. Ons sal aanhou baklei daarvoor dat Oregon se wet verander.”

Intussen is daar op Joshua se Facebookblad aangedui dat die kinderoppasser op borgtog vrygelaat is.

Bronne: nydailynews.com, yahoo.com

Lees ook op Huisgenoot.com:

Nike staan bankvas agter Maria Sharapova

EKSKLUSIEF: ’n Groot gunsteling verlaat die Laan

Errol se meisie het nie een varkie in die hok nie

Bisarre foto’s en video’s: So versorg ’n mens jou hare en naels in die ruimte . . .