Waarskuwing: Swendelaars slaan op Facebook-profiele toe – is jy gereed?

Facebook pixa

Dalk sien jy soos duisende Facebook-gebruikers daagliks waarskuwings oor profielinbrake, maar ignoreer dit tot dit hul eie profiel tref. ’n Nuwe kuberboelie doen juis nou die ronde op Facebook en het al talle gebruikers in sy strik gevang.

Natuurlik is jy dadelik nuuskierig om te sien wie jou wanneer afgeneem het, en klik daarop. Dan word jy gevra om ’n program te installeer om die video oop te maak.

Lees ook: Keer so dat Facebook jou met bemarkingsfoefies bombardeer

Voor jy jou oë uitvee, het die kuberboelie jou profiel oorgeneem en sit dié reg om jou Facebook-vriende met dieselfde slenter te vang.

Hoe weer jy ’n aanval van hierdie Trojaanse perd van die kuberruimte af? Die beste is om nie die video te probeer oopmaak nie en dit dadelik te verwyder.

Tik dan Facebook.com/hacked/ by jou soekkassie in en volg die gebruikersvriendelike stappe wat jou sal help om jou profiel te herstel. ’n Gereedskapsikoon – in ’n doktersjas – sal jou profiel skandeer en jou stap vir stap help om jou wagwoord te verander en jou profiel aan te pas.

Lees ook: Dis hoekom jy dadelik jou verjaarsdag van Facebook moet verwyder

As jy reeds die kastige video by Chrome-uitbreiding bygevoeg het, moet jy dit ook by die Chrome-stellings gaan skrap. Gaan na “chrome settings”, dan “extension” en skrap die video.

Dis niks nuuts dat Facebook-profiele gekraak word nie, sê prof. Basie von Solms, direkteur van die Sentrum vir Kuberveiligheid aan die Universiteit van Johannesburg.

Die algemeenste rede daarvoor is dat die gebruikers nie ’n sterk genoeg wagwoord het nie. Hulle gebruik byvoorbeeld hul man, vrou, kind of hond se naam wat oral op hul profiel verskyn.

Dit is belangrik om ’n wagwoord te kies wat kuberkrakers nie maklik kan raai nie. Basie raai ook gebruikers aan om hul wagwoord gereeld te verander.

Lees ook: ’n Nuwe Facebook-funksie kan jou heel moontlik rooi in die gesig laat

Hy gesels elke Donderdag oor RSG en gee radioluisteraars raad oor die kuberruimte en veiligheid.

Vir meer wenke besoek sy webtuiste by cybersecurity.org.za.

Facebook het ook ’n hulpafdeling waar jy kuberboelies, gemorspos en profielinbrake kan aanmeld.

Hier is ’n paar wenke om jou profiel te help beveilig:

? Hou jou wagwoord veilig en moet verkieslik nie dieselfde wagwoord elders op die web gebruik nie. Moenie jou naam of jou geliefdes se name as wagwoord kies nie. Maak dit moeilik vir kuberkrakers om dit te raai deur byvoorbeeld ’n kombinasie van letters en syfers te gebruik.

? Moet nooit jou aanmeldbesonderhede met ander deel nie. Enige e-pos wat daarvoor of vir jou wagwoord vra, is verdag.

? Sorg dat jy ná gebruik jou Facebook-profiel afmeld wanneer jy ’n rekenaar met ander deel.

? Moenie vriendskapsversoeke van vreemdelinge aanvaar nie. Dit kan swendelaars die geleentheid gee om plasings op jou tydlyn te maak.

? Moet nooit op verdagte skakels klik nie, selfs al kom dit van vriende.

? Gebruik bykomende veiligheidsfunksies op Facebook soos aanmeld-waarskuwings wanneer van ’n ander rekenaar of tablet op jou profiel aangemeld word. Sorg dat jou Facebook-vriende betroubaar is.

? Jy kan ’n veiligheidsondersoek van Facebook op jou rekenaar gebruik om jou stellings te herstel of te verfris.