Maar ’n mens moet meer daarop bedag wees, want misdadigers bring nou hul eie toestelle om jou kaartinligting te steel.

Terwyl niksvermoedende klante ná hul ete aan hul pepermente suig, bring sommige misdadige kelners ’n spesiaal geprogrammeerde toestel wat soos ’n gewone betaalpunt (BTP) -masjien lyk na die tafel toe.

“Hulle het kaartleessagteware op die BTP-toestelle gelaai en wanneer jy jou kaart daardeur vee, registreer dit jou kaartinligting. Wanneer jy jou pinnommer intik, registreer dit jou pinnommer,” het lt.kol. Jerome Hardenberg, hoof van die Wes-Kaapse eenheid vir kommersiële misdaad, Donderdag gesê.

“(Die sindikate) betaal die kelners natuurlik goed om dit te doen. Ons vind baie selde dat bestuurders betrokke is wanneer dit gebeur.”

Wanneer die skelm kelner eers die inligting het, beweer hulle die masjien werk nie en verlaat die tafel om ’n ander een te gaan haal.

Jerome beveel aan klante hou dadelik die toestel by die tafel, kyk of dit ’n reeksnommer het en roep die bestuurder om te bevestig dit behoort aan die restaurant. Enige drukstukke moet die restaurant se besonderhede insluit.

“Die skerp toename in kaartbedrog is eenvoudig omdat dit vir hulle winsgewend is.”

Die misdadigers in die provinsie het na BTP-toestelle oorgeskakel ná ’n spesiale operasie verlede jaar waarin die polisie minstens 11 OTM-kaartleestoestelle en onderdele om die toestelle te maak gekonfiskeer het. Hulle het minstens 2 000 kaarte en gekopieerde kaart- en pinnommers gekry.

Vanjaar het die provinsie se polisie al 40 mense weens kaartbedrog in hegtenis geneem en vyf handkaartleestoestelle en BTP-toestelle gekonfiskeer danksy die samewerking tussen verskeie partye.

In die afgelope twee weke het beamptes ’n BTP-toestel by ’n koffiewinkel en twee toestelle by winkelsentrums gekonfiskeer.

Bron: News24