Die jongste bywerking van die sosialemedia-webtuiste se app stel gebruikers in staat om “Stories” op te laai – ja, net soos Instagram, Snapchat en (meer onlangs) WhatsApp.

En anders as die fotodeelwebtuiste Instagram (wat aan Facebook behoort) se Story-funksie, is Facebook se weergawe van die opsie meer soos Snapchat s’n deurdat gebruikers prettige filters kan byvoeg en hulself in katte of ander wonderlike goed kan verander (skelm, né?).

Dit klink mos wonderlik, of hoe?

Wel, daar is ’n vangplek. Gebruikers wat stories oplaai, kan elke enkele mens sien wat daarna kyk. Ja, elke kykslag word vasgelê – al tik jy per ongeluk op hul storie-ikoon terwyl jy onskuldig hul profiel beloer.

Soos die tegnonuus-webtuiste Mashable se Damon Beres uitwys: “Stories maak nie sin op ’n platform met jare en jare van sosiale bagasie nie.”

“Facebook se algoritmes is slim genoeg om jou nuustoevoer vol te hou van mense en handelsmerke waarmee jy in werklikheid geniet om om te gaan, maar Stories is ’n bietjie morsiger.

“Dis veronderstel om jou ongefilter, in die oomblik, uit te beeld – wat nie regtig werk as jou gehoor die kind in jou Engelsklas op laerskool, jou ekonomie-onderwyser op hoërskool, iemand by wie jy eenkeer geslaap het, jou beste vriend, iemand met wie jy probeer vriende wees, en jou baas insluit nie . . .

“Om jou ’n idee te gee . . .”

fbstory

Aan die ander kant kan dit vreemd verslawend wees om die mens wat jy altyd beloer se naam op die kyklys te sien opduik . . .

Gelukkig kan jy steeds vriende se “gewone” foto’s en video’s kyk as jy nie wil hê mense moet weet jy snuffel deur hul profiel nie. En as hulle pas ’n storie gelaai het, wat jy ook al doen, moenie op daardie aanloklike ronde ikoon tik nie . . .

Ten minste behoort die versoeking om daarop te tik nie te groot te wees nie, want dit lyk of die nuwe kenmerk by baie min mense byval vind.

“Min mense met wie ek vriende is, blyk in die eerste plek Stories te gebruik,” sê Damon. “Van vanmiddag af het ek drie gehad om van te kies – uit ’n poel van 943 vriende.”