Woensdag het dit bekend geword dat nie minder nie as 18 Suid-Afrikaanse rugbyspelers tussen Junie 2015 en April 2016 skuldig bevind is aan die gebruik van verbode middels. Die grootste sondaar hier is steroïede. Nie dat dit op sigself ’n nuwe probleem is wat onlangs eers kop uitgesteek het nie. In 2013 het Suid-Afrika se rugbybase reeds hul gewig agter die Suid-Afrikaanse Instituut vir Dwelmvrye Sport (SAIDS) gegooi met anti-opkikkeropvoeding en toetsprogramme vir hoërskole. “Rugby het hom nog altyd daarop geroem dat dit ’n taai spel is, maar een wat gespeel word met die hoogste respek vir billike spel en kameraderie. Die gebruik van dwelms om die spelpeil te verhoog druis daarteen in,” het Jurie Roux, uitvoerende beampte van Saru destyds gesê. Die eerste skokgolf was toe vroeër vandeesweek bekendgemaak is dat twee Superrugby-spelers skuldig bevind is aan die gebruik van opkikkers, onder wie die Sharks-haker Mondo Hadebe. Mondo is vir vier jaar uit rugby geskors.

Na wat berig word, het Ntando Kebe van die Southern Kings ook positief getoets. Hy ontken tot dusver die gerugte.

Kort op die hakke daarvan het die volgende sarsie skokke bekend geword. Die ander skuldiges is van die Curriebekerreeks, Cravenweek, Akademieweek, onder-21 en die Varsitybeker.

Dis ’n donker prentjie wat geskilder word – een waarin daar meer opkikkers op skoolvlak, onder wie minderjariges, as deur professionele rugbyspelers gebruik word.

Die gewese All Black-speler en -afrigter John Mitchell het reeds in 2015 oor die toename van opkikkers onder skoolgaande spelers gepraat.

Hy was van mening omdat soveel klem op grootte in die Suid-Afrikaanse konteks geplaas word, sal skoolgaande spelers makliker opkikkers oorweeg.

En die geld om dit aan te koop? John glo ouers is die bron daarvan, en dat hulle moet seker maak waarvoor hul kinders meer geld nodig het.

John het genoem die fokus is plaaslik ook sterker op stilstaande gewigsoefeninge en die gimnasium eerder as om die spelers te kondisioneer met die basiese beginsels van rugby soos aangee en vang, soos in Nieu-Seeland die praktyk is.

Tydens die Cravenweek wat vroeër vanjaar in KwaZulu-Natal gespeel is, is 150 toetse geneem. Die resultate sal na verwagting teen einde Augustus beskikbaar wees.

Khalid Galat van die SAIDS, het in ’n onderhoud met rugby365.com gesê die grootste bekommernis is die bron van die verbode middels en waar die spelers dit in die hande kry.

“Hulle kan dit net deur sluikhandel in die hande kry,” het hy gesê. “Dit beteken ons het skoolkinders wat kontak het met ondergrondse karakters en misdadigers wat basies dwelmhandelaars is.” Wêreldrugby het van 2015 vir die volgende vier jaar 27 persent meer begroot vir die opvoeding, toetsing en navorsing van opkikkers in die sport. Dis nie net in Suid-Afrika nie, maar ook wêreldwyd waar die gebruik van verbode middels om spelpeil te verhoog, toeneem.

Bernard Lapasset, vorige voorsitter van Wêreldrugby, het gesê hulle glo nie daar is ’n kultuur van sistematiese opkikkergebruik in rugby nie.

Is daardie opkikker werklik die moeite werd?

  1. Behalwe dat jy dalk vir ’n geruime tyd nie jou geliefde sport sal kan beoefen nie, is daar volgens die Hou Rugby Skoon-veldtog ook ’n paar ander aspekte wat in gedagte gehou moet word:
  2. Jy kan as ’n verkuller bestempel word.
  3. Jou naam sal in die media verskyn – vir die verkeerde redes pleks van vir jou werklike prestasie op die veld.
  4. Jou reputasie kan deur die modder gesleep word.
  5. Jy sal heel waarskynlik die respek van jou spanmaats inboet.
  6. Jy kan maar enige aansien wat jy dalk in jou plaaslike gemeenskap sou geniet het, koebaai sê.
  7. Verlies van ’n kontrak of moontlik klubkontrakte en borge sal volg.
  8. Werkgeleenthede kan opdroog.

    Bronne: ewn.co.za, rugby365.com, vodacomrugby.co.za, bdlive.co.za, sport24.co.za, worldrugby.org