PYN het sy merke genadeloos op die bekende gesig gelaat. Haar regteroog hang effens en die regterhoek van haar mond waaruit goue klanke 25 jaar lank gevloei het, trek na onder.

Dieselfde mond waaruit treffers soos Ek Lewe en Neem My op Vlerke gerol het, kan nou niks groter as 1 cm oopmaak nie.

“My mond is weggevat,” sê Anneli van Rooyen in ’n sagte stem. Sy beheer haar emosies byna so goed soos die pyn waarmee sy al jare lank saamleef.

Altesaam 23 van die 25 jaar dat sy in die kollig was, het sy erge pyn verduur waarvan min mense geweet het. ’n Breinoperasie het tydelike verligting gebring toe sy eindelik in 2004 gediagnoseer is, maar ’n opvolgoperasie was ’n volslae mislukking. Sy het “heeltemal stukkend’’ uit die teater gekom, sê sy.

Nou, ná ’n soektog van drie jaar terwyl pyn haar party dae tot raserny gedryf het, is daar eindelik weer hoop vir haar. Maar sy het nie nou naastenby genoeg geld vir die motorkorteksoperasie wat ’n neuroloog aanbeveel het nie, nie ná twee dekades van hemelhoë mediese kostes nie.

“Hierdie ding het my finansieel uitgewis,’’ sê sy reguit.

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 7 April 2011