As 2009 vir Caster Semenya die jaar van die Groot Vernedering was, kan 2010 dalk die jaar van die Groot Operasie word – die een wat haar lewe kan red, maar ook die einde van haar loopbaan as internasionale atletiekster kan beteken.

Vir die 19-jarige vrou wat die wêreld verstom het met haar wenvertoning oor 800 m in Berlyn, lê ’n groot besluit voor. Want soos Simson van ouds wat sy krag verloor het toe sy hare afgesny is, sal Caster met ’n operasie om inwendige testikels te verwyder, dalk ook die bron van haar towerkrag kwyt wees.

Of sy wel sulke testikels het, is amptelik steeds duister. Die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies (IAAF) swyg soos die graf nadat geslagstoetse op Caster uitgevoer is toe vrae oor haar verstommende vertoning ontstaan het. Maar die weergawe van hul verslag wat intussen in Australië uitgelek het, laat min twyfel dat ’n moeilike besluit op Caster wag.

Daar is glo bevind sy is ‘‘interseksueel’’ omdat sy geen baarmoeder of eierstokke het nie en drie keer meer testosteroon vervaardig as ander vroue. En die inwendige testikels waarmee sy gebore is, hou ’n groot gevaar van kanker in en sal verwyder moet word (Caster: ’n vrou en ’n superster, 3 September 2009).

Die IAAF het ook niks gerep oor of Caster nog mag deelneem sonder ’n operasie nie. Nou wag almal in spanning om te sien of sy wel by die eerste groot atletiekbyeenkoms van die jaar, op 22 Januarie in Germiston, gaan opdaag. En indien wel, sal sy op 12 Maart weer met die louere wegstap by die eerste internasionale atletiekbyeenkoms van die jaar in Doha in Katar?

Lees meer oor Caster se dilemma in Huisgenoot van 14 Januarie.