Nie net is openbare onluste van die mees onvoorspelbare gebeure in Suid-Afrika nie; dit kan ook binne ’n oogwink opvlam.

Vanselfsprekend wil ’n mens sulke situasies vermy, maar wat as dit jou onkant betrap?

Die Outomobiel Assosiasie (AA) sê as jy weet daar is onluste in jou gebied, bly op die hoogte van die nuus deur byvoorbeeld te luister na ’n radiostasie wat verkeersberigte uitsaai en hou sosiale media dop.

[caption id="attachment_129875" align="aligncenter" width="600"]Dié broodtrok is op 22 Junie tydens #TswaneUnrest in Atteridgeville aan die brand gesteek. Foto: Ayanda Sitole (DRUM). Dié broodtrok is op 22 Junie tydens #TswaneUnrest in Atteridgeville aan die brand gesteek. Foto: Ayanda Sitole (DRUM).[/caption]

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens raai motoriste ook aan om heeltyd waaksaam te wees. As jy wel tussen betogers beland, maak dit duidelik jy hou nie ’n bedreiging in nie.

“Wanneer onluste uitbreek, word die paaie gewoonlik afgesper,” sê die Gautengse polisiewoordvoerder, kapt. Tsekiso Mofokeng.

Hy benadruk ook motoriste moet na die polisie luister. “As jy in so ’n situasie beland, wees op die uitkyk vir ’n uitkomkans of ’n polisielid wat jou kan bystaan.”

Nog wenke:

Bly kalm.

Bly so lank moontlik in jou motor.

Maak almal jul sitplekgordel los sodat julle die voertuig vinnig kan verlaat sou dit nodig wees.

Probeer om nie die betogers raak te ry nie.

Moenie hulle uitlok, handgebare wys of beledigings skree nie.

Bel die polisie as jy hulle nie op die toneel sien nie. As dit lyk of jy nie in jou motor sal kan wegkom nie, verlaat die gebied te voet; geen aardse besitting is meer werd as jou lewe nie. Laat jou geliefdes weet wanneer jy veilig is. Bronne: aa.co.za, arrivealive.co.za Save