? Vrou het hom ’n appel in die hand gestop, en ’n man het hom eendag ’n opgevoude R100-noot gegee. Nog een R12. Maar al was dié meevallers welkom, was dit nie die eintlike rede waarom Leon Kämmerling die desperate besluit geneem het om op ’n besige straathoek by die Menlyn-inkopiesentrum in Pretoria te gaan stelling inneem nie.

Leon wou werk hê, nie geld nie. ’n Vaste werk – iets waarna hy al 10 jaar gesmag het. Toe het die 55-jarige man die Julie-koue in die oggend-spitsverkeer gaan trotseer, gewapen met pamflette met sy CV daarop en kartonborde om sy nek met die woorde ‘‘soek vaste werk’’ en sy selfoonnommer. So het drie weke verbygegaan daar in Atterburyweg. En uiteindelik het die oproep gekom – hy word genooi vir ’n onderhoud.

‘‘Dit was half onwerklik toe dit uiteindelik gebeur,’’ vertel Leon, wat nou sedert 11 Augustus personeelsake hanteer en administratiewe werk doen by ’n versekeringsmaatskappy, Romecco Insurance Brokers, in die Pretoriase middestad. Sy vrou, Anne, was aanvanklik maar skepties oor Leon se besluit om op ’n straathoek te staan, maar nou glimlag sy trots. ‘‘Ons het soveel jare so gesukkel,’’ vertel die onderwyseres. ‘‘Vir die eerste keer in jare begin alles nou regkom. Ons kan nou weer mens word.’’

Die netjiese gryskopman van Hermanstad in Pretoria lyk gemaklik agter sy lessenaar. Hy haal lêers uit van sake wat hy al behartig het om te wys wat hy doen, so asof hy al jare by die plek werk. ‘‘Ek is baie gelukkig om hier te wees,’’ sê hy. ‘‘Dis die beste ding wat in ’n lang tyd met my gebeur het.’’

Net soos hy hier sit, het hy soggens van sewe- tot negeuur met ’n wit hemp, das en swart broek op die middelmannetjie van die straat gestaan. Net ’n dik blou baadjie het ’n bietjie beskutting teen die koue oggendwind gebied. ‘‘Ek was elke dag reg om dadelik vir ’n onderhoud te gaan. Ek het geglo dit gaan gebeur.’’

Lees die artikel in Huisgenoot van 24 Desember.

Bespreek vir Skouspel!