Daar was drie onverwante gebeurtenisse wat gesorg het dat Jakkie Louw, die sanger van die Drie Pikkewyne, in die kollig beland het.

En soos die lewe mos maar loop, was hulle nie almal positief nie, maar dit het hom geslyp tot die man wat ons vandag op sy spore terugvat terwyl ons hier op sy voorstoep in Moreletapark, Pretoria, kuier.

Hy het baie onthouplekke en al het hy naam gemaak met sy braaivleismusiek, het hy deesdae duidelik ook ’n sensitiewe kant. Luister maar na sy treffer Een Miljoen Woorde op sy nuwe album, Gemaak in SA – dis nie pikkewyndeuntjies daardie nie.

Die album is laat verlede jaar uitgereik en daarop sing hy ook die duet Gebed van die Vreeslose saam met Kevin Leo. Die eerste belangrike gebeurtenis was toe die Louw-gesin van Oudtshoorn na Bellville getrek het toe Jakkie net nege maande oud was.

Bellville, terloops, is die Kaapse voorstad waaroor almal bespiegel of musiek dalk in die waterpype vloei, want kunstenaars soos Jack ParowFokofpolisiekar en aKing het daar grootgeword. Jakkie enFrancois van Coke van die Polisiekarre het hoeka teen mekaar meegeding by ’n Battle of the Bands in 1995, toe Jakkie, toe 16 jaar oud en ’n leerling aan die Hoërskool D.F. Malan, ’n lid van die groep Stone Analysis was.

“En vandag is ons nog groot maatjies, ek en Francois!” sê hy laggend.

Die tweede gebeurtenis was ’n hartseer een: die Paasnaweek in 1994 toe sy broer Frikkie, toe 18 jaar oud, verongeluk het.

“Ek was 15 toe Frikkie oorlede is,” vertel Jakkie, wat in Mei 32 word. “Hy was maar net op sy motorfiets op pad van ’n ekstra wetenskapklas huis toe toe ’n motor voor hom inry.”

Die dag van die begrafnis het dit so gesous dat die gesin – pa Nico is ’n dominee en ma Elma ’n tuisteskepper, en sy medespruite KosieHennieHannelie (nou Keller), Dédé (nou Oosthuizen) en Nico – bang was dit sou uitreën. Maar  toe hulle by die kerk instap, is hulle begroet  deur ’n see van gesigte.

“My boetie was gelief: die nerds, die in-groepie, die slim kinders, die branderplankryers – almal het gekom.”

Jakkie het gesukkel om sy smart te verwerk.

“Maar toe druk my een skoonsus eendag ’n kitaar in my hand. Sy het gesê ek moet my aggressie daarop uithaal. Ek het my daarna ure lank in my kamer toegesluit en die vingerdrukke uit ’n boek geleer. Ek het nie lesse geneem nie. Dit was 1995. Ek het begin musiek skryf en nooit weer opgehou nie.”

Die derde voorval was die keerpunt, die gebeurtenis wat Jakkie in die kollig laat beland het.

Dit was in 2001 toe hy ná ’n toer na Pretoria met sy band, Jakkie Louw en die Koprukkers, besluit het om na die Jakarandastad te trek. Dis waar hy op Donderdagaande in Maloney’s, ’n kuierplek in Hatfield, begin speel het in ruil vir ’n paar rand en ’n bord kos.

“Ek onthou ek het nog sulke lieflike mutton chops op my wange gegroei en kruisbande en ’n gholfpet gedra,” lag hy skaam-skaam. Min het hy geweet Maloney’s is eintlik ’n sterfabriek wat sangers soosTheuns JordaanPieter Smith en Robbie Wessels aan die massas bekendgestel het.

“Dis amper soos ’n produksiebaan. ’n Sanger sou op  Donderdae daar begin speel, dan so gewild word dat hulle Maloney’s moet verlaat, en dan sou die volgende een begin en dieselfde ding sou gebeur.”

Dis hiér waar Jakkie bekend geword het vir liedjies soos Rambo die Polisiehond en Ek En Jy En ’n Bottel Tas. Hy het in 2001 in Maloney’s begin sing, maar hulle het twee maande later bankrot gespeel. Toe het hy straataf by McGinty’s Pub begin speel en vinnig vir hom ’n naam onder die studente daar opgebou.

“Ek het liedjies soos Sannie Kriel van Sunnyside gesing en die Pretoriase studente was mal daaroor.”

Twee jaar later het Maloney’s onder nuwe bestuur oopgemaak en Jakkie het weer daar gesing – en dié keer was die plek keer op keer stampvol.

“ ’n Mens kon vroegaand nie parkering kry nie!” Dit was die nuwe eienaar, Eric Landman, wat in 2006 vir Jakkie die geld geleen het om sy eerste album, Alles in Een Glas, op te neem.

En die res - soos die gesegde lui - is geskiedenis. Lees Jakkie se volledige verhaal in die Herfs 2011-uitgawe van Huisgenoot-Tempo.