Min mense droom daarvan om in die tjoekie toegesluit te word, maar ’n 99-jarige vrou van Nederland het die ongewone lewensdroom gehad om te voel hoe dit voel om in hegtenis geneem te word, en toe stem die polisie boonop in om haar droom te bewaarheid!

Die vrou, wat net bekend is as Annie, het glo haar lewe lank al ’n emmerlys van ervarings wat sy wil kan aftiek teen die tyd wat sy sterf. Een van daardie wense was om gearresteer te word. Dié vreemde lus het daartoe gelei dat haar niggie wetstoepassers kontak om die nodige reëlings te tref.

En wonder bo wonder het hulle ingestem tot haar vreemde versoek.

"Ons het reëlings getref en haar by haar huis opgelaai in ’n polisiemotor," het die polisie agterna aan BuzzFeed News gesê. Annie is boonop vasgeboei en selle toe geneem, waar sy ’n paar minute in ’n sel vertoef het.

"Dis nie normaalweg die soort ding wat ons doen nie, maar ons het vir Annie ’n uitsondering gemaak," het die polisie bygevoeg.

Die polisie het ook erken hulle is onseker oor waarom Annie so graag dié vreemde ervaring wou deurmaak, maar die feit bly staan dat sy glo aangedring het daarop dat sy nog altyd wou weet hoe dit voel om toegesluit te word.

Die polisie het foto's van die unieke voorval op hul Facebook-blad gedeel, waarna dit gou internasionaal uitgekring het. En te oordeel aan Annie se dolgelukkige gesigsuitdrukking in die foto's, het sy die ervaring so baie geniet, sy sal dit dalk weer wil doen.

Bronne: Facebook, BuzzFeed News, ABC News.