HY KLIM elke dag verskeie stelle trappe tot by sy voordeur, stap teen ’n pas van 7 km/h winkelsentrum toe en volg ’n oefenroetine wat ’n man dekades jonger as hy sal onderkry.

“Voel my maagspiere,” sê Bernie Abel, en nooi ons trots uit om sy klipharde maagspiere te ondersoek. Dan gaan lê die 75-jarige oupa op die vloer van sy woonstel in die Oasis-aftreeoord in Century City, Kaapstad, en begin sy daaglikse oefeninge demonstreer.

Eers die asemhaling. “Dit lig die bekken en strek die lae rug,” verduidelik hy, en lig dan eers een been en dan die ander een. Dan kom die opsitte aan die beurt – hy doen minstens 400 per dag, sê hy.

Hy spring regop om op die plek te draf en sy knieë te buig. Dan val hy vooroor op sy hande om 20 opstote te doen. ’n Mens sweet sommer om net al na hom te moet kyk, maar Bernie se asem stoot skaars.

En wat vir onsin is dit met aftreepraatjies? Hy werk steeds as sakemakelaar en motiveringspreker, maar hy maak darem tyd om in die klubhuis potspel te speel.

Dis moeilik om te glo dié fikse oom het ses jaar gelede by die dood omgedraai nadat kolonkanker hom platgetrek het – maar ook net tydelik. Die kolostomie-sakkie wat hy ná ’n reeks operasies gedra het, is eindelik in Februarie vanjaar verwyder, maar moenie vir ’n oomblik glo daardie sakkie het hom aan bande gelê nie – hy’t steeds daagliks sy oefeninge gedoen.

Die gerekende Kaapse sportwetenskaplike prof. Tim Noakes is beïndruk met Bernie se houding jeens oefening en sê dit moet vir ander as inspirasie dien.

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 6 Januarie 2010