Met alles wat die lewe so mildelik na haar kant gestuur het, smag sy al jare na iets wat miljoene doodgewone vroue as vanselfsprekend aanvaar – ’n boetie of sussie vir haar alleenkind.

Die Kanadese sanger Celine Dion hunker al lank na ’n groot gesin. Sy is immers self die jongste van 14 kinders, maar in haar eie huis is daar steeds net haar seuntjie, René-Charles (9).

En kyk dan nou net so: Op ’n rype 42 het Celine pas bekendgemaak dat haar sesde in vitro-probeerslag in die kol was.

Sy is 14 weke swanger en dis boonop ’n tweeling!

Vir haar is moederskap die belangrikste werk nog, sê sy al jare, en hoe meer kinderstemme in die gange van haar huis kan weergalm, hoe beter. Haar man en bestuurder, René Angélil (68), is juis nie meer vandag se kind nie.

Die sanger wat al meer as 175 miljoen CD’s verkoop het, het bloot gehoop op ’n gesonde swangerskap, sê ’n ekstatiese René oor die blye nuus. “Sy het net gehoop op een baba en die nuus dat ons nou twee gaan kry, is regtig ’n dubbele seën.’’

Sy was laat verlede jaar swanger en dit voel asof sy al ’n jaar lank verwag, sê die sanger oor haar verbete stryd om ’n tweede keer ma te word.

Net voor sy dié baba verloor het, het sy haar hart op Oprah Winfrey se rusbank uitgestort. “Ek het nooit tou opgegooi nie, maar ek kan jou sê dit was fisiek en emosioneel uitputtend.’’

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 10 Junie 2010