Beeld het Woensdag berig twee leerders van die Hoërskool Dr. E.G. Jansen in Boksburg aan die Oos-Rand van Gauteng gaan voor ’n tugverhoor verskyn omdat steroïede in hul besit gevind is.

Die skoolhoof, Leon de Beer, het die polisie ontbied om die twee seuns, 16 en 17 jaar oud, op die skoolterrein in hegtenis te neem.

Die beheerraad van die skool het besluit om die seuns te skors, hangende die uitslag van die verhoor volgende week.

Kobus Kleynhans, voorsitter van die beheerraad, het gesê enige kinders wat gevang word dat hulle steroïede gebruik, sal nie weer toegelaat word om aan skoolsport deel te neem nie.

Volgens die polisie is die seuns aangekeer en toe in hul ouers se sorg vrygelaat.

- Sapa