Die gemeenskapskoerant Kempton Express het Woensdag berig dat Ivan Steyn Maandagoggend oorlede is na sy motor in vlamme opgegaan het. Ivan se motor het glo met ’n staalpilaar gebots en daarna aan die brand geslaan, berig Kempton Express.

Die ongeluk het in die vroeë oggendure naby die P91 en Zuurfonteinweg gebeur.

Volgens William Ntladi, woordvoerder van die Ekurhuleni-metropolisie, het Ivan se motor die pilaar teen ’n hoë spoed getref.

Die Hoërskool Jeugland, waar Ivan vanjaar gematrikuleer het, het die nuus van Ivan se dood op Facebook bevestig.

Boodskappe van simpatie het ingestroom.

“So 'n pragtige jong seun in die fleur van sy lewe weggeneem. Ons sal nooit God se plan verstaan nie, maar ons moet bly hoop en vertrou,” het ene Wence Victor op Facebook geskryf.

Ivan word Donderdag uit die NG Gemeente Hoogland in Kempton Park begrawe.