Die Brakpan Herald berig De Jager het in die streekhof in George skuldig gepleit op drie aanklagte van poging tot moord, roekeloos en nalatige bestuur en die rig van ’n vuurwapen op sy eksvrou.

Die egpaar was 20 jaar getroud voor hulle op 26 Maart verlede jaar geskei is. Roosmarie was ’n bekende inwoner van Brakpan en het die Lady Gracious-skoonheidskompetisie in 2010 gewen.

Sy het ná haar egskeiding besluit om op Groot-Brakrivier te gaan woon.

De Jager het vir Roosmarie gesê hy wil haar ontmoet en het haar in April by die N2-snelweg naby die Heroldsbaai-afrit gekry, berig die George Herald. Ná ’n rusie het hy Roosmarie glo in die been geskiet. De Jager het weggejaag, maar kort daarna teruggery en homself onder die ken geskiet. Albei het die voorval oorleef.

Roosmarie het intussen na Australië verhuis.

“Dit was ’n uitmergelende 19 maande,” het sy aan die Brakpan Herald gesê.

De Jager het ’n opgeskorte vonnis van vyf jaar gekry.