Inwoners van die Oos-Rand is Dinsdagoggend geruk toe die lyk van 'n 16-jarige meisie, Ané Jacobs, in die veld naby 'n sportklub gekry is.

Volgens inligting in die sosiale media het sy Saterdag saam met vriende by verskeie plekke in Alberton gekuier waarna sy 'n blok vanaf die woonstelgebou waar sy gewoon het, afgelaai is. Volgens Pink Ladies, 'n organisasie wat help om vermiste kinders op te spoor, was dit die laaste keer dat sy lewend gesien is.

Ané het toe 'n swart kort broek, wit hemp en swart skoene gedra. Sy was 'n leerder aan die Hoërskool Alberton.

Op Facebook het huldeblyke ingestroom. Een persoon het gesê: “Ai, dit is vreeslik hartseer. Hoe kan iemand so iets doen?”

Nog 'n inskrywing, in Engels, lui: “Such a beautiful girl! Can't believe society, how can you kill your fellow human being? What makes you God and what is wrong with men??? Reaaaaaalllly??? Do you feel superior??? I really hope they catch whoever did this! So sorry for your loss!”

“Rus in vrede, Ané Jacobs,” het 'n ander gebruiker geskryf. “Sterkte aan die familie en vriende.”

En nog 'n vriendin het geskryf dat sy Ané baie gaan mis. “Jou grappies, jou geselsies, jou glimlag jou 'okayyy' wat altyd so lank uitgerek is. Jou sarkastiese kommentaar op die snaaksste tye. Jou onverwagte kuiertjies. Jou random oomblik. Die huppel in jou stap.”

Die polisie is genader om kommentaar.