Hulle het 10 jaar lank deurgeloop onder die groot droogte – die Big Dry, het die Australiërs dit genoem. Maar toe hul gebede eindelik verhoor word en die blink gordyn uit die hemel neerdaal, was dit sonder ophou en allesbehalwe ’n seëning.

Australiërs in Queensland in die noordooste van die land loop nou deur onder een van die ergste vloede van die afgelope halfeeu. Die helfte van die state is onder water, en die vernietigende vloedwaters het sowat 200 000 mense in 22 dorpe en stede ontwortel en biljoene rande se skade aangerig.

Onophoudelike reën wat kort voor Kersfees toegeslaan en ’n gebied so groot soos Frankryk en Duitsland oorstroom het, het reeds vier lewens geëis.

In een voorval is ’n 41-jarige vrou ten aanskoue van haar gesin deur die water verswelg toe sy ’n oorstroomde brug in Burketown in die weste in hul motor wou oorsteek.

Tot dusver is 41 van Queensland se 73 munisipaliteite tot rampgebiede verklaar, en in Emerald in Sentraal-Queensland is meer as 1 000 huise oorstroom.

Dié wat nog staan, is vol modder en water en op sommige dorpe krioel dit van ongediertes soos slange en spinnekoppe wat skuiling soek teen die watermassa.

Michelle Jackson van Emerald, wat op Oujaarsaand haar huis moes ontruim, sê: “Ek kry trane in my oë as ek na ons plek kyk. Ek kan nie glo die meubels het in die huis rondgedryf en dit is vol water nie . . .”

Sowat 263 km daarvandaan is die kusstad Rockhampton, wat die ergste getref is. Die sowat 75 000 inwoners is afgesluit van die res van die wêreld. Die lughawe, spoorweg en hoofpad na Brisbane is oorstroom en onbegaanbaar.

Lees meer oor die verwoesting in Huisgenoot, 13 Januarie 2010. En kiek die ikoon met jou foon om die verwoesting te sien wat deur die vloede veroorsaak is.