Die Olimpiese atleet, wat sy meisie, Reeva Steenkamp, op Valentynsdag doodgeskiet het, is sedert die voorval min in die openbaar gesien, maar moes vandag weer in die hof verskyn.

Toe hy hof B om 08:57 binnestap, het Oscar soos ’n skadu gelyk van die man wat die gesig van Olimpiese sport geword het.

Oscar was geklee in ’n grysblou hemp, swart-en-wit blokkiesdas en ’n grys pak.

Hy het bleek gelyk, maar anders as in Februarie, toe hy deurentyd gehuil het, het hy sy emosies vandag onder beheer gehad.

Die sportster se suster, Aimée, broer, Carl, oom Arnold en ander familielede het stil in die eerste bank in die galery agter hom gesit. Daar was nie ’n teken van sy pa, Henke, nie.

Oscar se verskyning het ’n skamele 16 minute en 16 sekondes geduur; die atleet het deurentyd roerloos en met sy hande voor hom saamgevou na die hofverrigtinge geluister.

Die staat het versoek dat die saak tot 19 Augustus uitgestel word vir verdere ondersoek. Hulle wou nie die meer besonderhede rondom die aansoek op rekord plaas nie en het reeds verlede week ’n ooreenkoms met Oscar se verdedigingspan oor die volgende hofdatum bereik.

Waarnemende landdros Daniel Thulare het sy kommer uitgespreek daaroor dat sekere mediahuise die saak in die media verhoor. Hy het die staat se regspan en die polisie opdrag gegee om ondersoek in te stel na negatiewe beriggewing oor die hof en ondersoeke en bygevoeg: “Ek lees ook koerante en sien ook die berigte.”

Oscar se familielede het hom verder ondersteun toe die hof verdaag. Helikopters het in die lug gesirkel en joernaliste en fotograwe het die ster tot buite gevolg. Sy borgtog is verleng en hy sal weer op 19 Augustus verskyn.

- Danel Blaauw

Besoek ook:

- Foto's van Oscar se hofverskyning

- Tydlyn: Oscar-saak