Die 31-jarige Glee-ster is Saterdag (13 Julie2013) dood aangetref in sy hotelkamer in Vancouver, Brits-Columbië. Die lykskouing het gister (15 Julie 2013) begin, maar die kantoor van die provinsiale lykskouer het gesê hulle sal “beslis” nie die finale toksikologie-uitslae vandag terugkry nie.

Die kantoor het aan Us Weekly gesê: “Ons het dalk môre nuus, maar die finale oorsaak van dood sal eers oor etlike dae of selfs weke daarna beskikbaar wees.”

Sedert die verpletterende nuus plaas die oorlede akteur se aanhangers briefies en blomme buite die Fairmont Pacific Rim Hotel waar sy lyk gekry is.

Maar dit is nie net in Amerika en Kanda waar Cory se dood betreur word nie. Aanhangers van Glee, wat as Gleeks bekendstaan, het die naweek by ’n Glee-byeenkoms by die Thistle Hotel by Heathrow in Londen aan hom hulde gebring.

Beplande geleenthede soos handtekeningsessies met die akteurs Curt Mega en Telly Leung (onderskeidelik Nick en Wes in die musiekdramareeks) is afgelas nadat die nuus oor Cory se dood bekend geraak het.

Baie van die ondersteuners het sy naam gedreunsing en ’n verwerking van die Glee-weergawe van Journey se Don’t Stop Believin’ gesing.

Cory se meisie en medester, Lea Michele, is glo “ongelooflik verslae” oor sy dood.